Uit my Kuierkombuis

Daar word weer koue voorspel later in die week ………… tot onder vriespunt! Dit vra vir warm sop!  ‘n Interessante sop wat oor my pad gekom het en wat baie lekker is,  is beetsop!

‘n Bietjie agtergrond oor beetsop ………..

Volgens Wikipedia ……….. Borsjt OekraïensRussies: borsjtsj;  is ’n suur sop wat in verskeie Oos-Europese lande gewild is, veral in OekraïneRuslandPoleBelarusLitaue en Roemenië. Die variasie wat in die Weste gewoonlik met die naam verbind word, is van Oekraïense oorsprong en bevat beet as een van die hoofbestanddele, vandaar die sop se kenmerkende rooi kleur.

Ons eie C Louis Leipoldt,  skryf die volgende in sy boek, Polfyntjies vir die Proe –

“Daar is ‘n eersteklas koue ‘bortsch’ of beetsop. Dis eenvoudig opgekookte hoendersop waarin ‘n beet gesny is. Kook saam totdat die hoendersop die beetgeur opgeneem het. Sit dan opsy; as dit koud is, gooi deur ‘n doek, en voeg die uitgedrukte sap van ‘n paar jong bete by. Dit maak die sop heerlik rooi. Voeg by spesery en sout en sit in die koelkas, maar moenie laat styf word nie. Dit geskied alleen as die hoendersop sterk en kragtig is – soos dit dan ook behoort te wees. As daar tekens is dat dit wil begin styf word, neem dit uit en klits ‘n bietjie; laat dit vloeibaar wees as jy dit bedien, met iets bros daarby.”

Daar is verskeie resepte op die internet vir beetsop,  koud of warm!  Ek het die volgende gemaak,  dit warm bedien met geroosterde broodblokkies en room!  Heerlik!

Beetsop

Bestanddele

6 bete, geskil en in blokkies gekap
2 wortels, in ringe gesny
4 aartappels, geskil en in blokkies gesny
1 blokkie hoender ekstrak

5 ml (gedroogde) knoffelvlokkies

1 middelslag ui fyn gesny

5 ml Robertsons se Veggie speserye
sout en witpeper na smaak
1 koppie room (ingeroer net voor opdiening)

Metode

Bedek die voorbereide groente met water (1 tot 2 liter water) en kook tot gaar.

Verpulp dit  en voeg nog bietjie sout en peper by indien nodig, maar onthou dat die vleisekstrakblokkie asook die ander speserye reeds genoeg geurigheid aan die sop gee. Proe dus  eers voordat nog sout of peper bygevoeg word.

Voeg die room by  net voor opdiening of laat elkeen in sy sopkommetjie self die room byroer.

Die room rond die sop mooi en geurig af.

Die sop is lekker dik en u kan dit effens verdun indien nodig.

Rond elke kommetjie sop af met geroosterde broodblokkies en vars gekapte pietersielie!  Selfs ‘n draaitjie varsgemaalde swart peper!

ONTHOU DIE ROOM!!

NS Die beet wat ek vir die sop gebruik het was heerlik soet. Indien dit nie geurige beet is nie,  kan u die geurmiddels daarby aanpas om dit meer geur te gee.