Uit my Kuierkombuis

Daar kry ons so twee of drie  dae en nagte winter ……. en daarna amper somersweer gedurende die dag … maar,  die winter is wel met ons!  Dit vra vir sop, bredies en pastei wat die spyskaart betref!

Die afgelope naweek het ek gebraai en daar het van die kruisskyf (wat so ietwat aan die taai kant was),  oorgebly.  In plaas daarvan dat  ek dit opsny en braai saam met ‘n ui as ‘n bygereg vir ontbyt,    het ek dit opgesny en saam met gekapte ui,  wortelwieletjies en aartappelblokkies asook die nodige speserye stadig geprut …… amper soos ‘n bredie.  Die geurige bredie met so ‘n effense braaivleisgeur,  het ek uitgeskep in ‘n bak en dit bedek met ‘n loperige deeg, in die oond gedruk en gebak tot goudbruin en bros  ………

Vinnige pasteikors

1 Xtra groot eier

125 ml olie

125ml melk

250 ml koekmeelblom

10 ml bakpoeier

5 ml mosterdpoeier

Knippie rooipeper (opsioneel)

Metode:

  1.  Sif die droë bestanddele saam en klits die melk, eier en olie saam.
  2. Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng goed deur tot ‘n slap deeg.
  3. Skep die deeg eweredig oor die vleis en bak in ‘n voorverhitte oond van 180ºC vir 25 minute of tot goudbruin.

Groete tot volgende week!