Trump bring verandering in Navo

VSA en Poolse presidente

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het klaarblyklik ’n diplomatiese skuif gemaak deur oorweging te gee aan die moontlikheid om die troepe wat hy uit Duitsland wil onttrek, te verskuif na Pole.

Die president het met die besoek van die Poolse president, Andrzej Duda,  by die Amerikaanse Wit Huis, ’n gesamentlike verklaring uitgereik wat daarop dui dat oorweging aan so ’n moontlikheid gegee word.

Die Amerikaanse president het die week weereens daarop gewys dat hy aan die moontlikheid dink te midde van kritiek uit Duitsland en die vêr-linkse demokrate in Amerika.

Die besluit om 9,500 troepe uit Duitsland te onttrek, het die hoof van Navo laat reageer deur Duitse leiers te vra om meer betrokke te raak by Navo.

Vroeër het Trump gedreig om Navo lidmaatskap te beëindig indien Duitsland nie sy bydrae tot Navo verbeter nie, en telkens het die Duitse regering van Kanselier Angela Merkel geswig voor die diplomatiese skuiwe van die Amerikaanse president.

Trump se optrede volg nadat hy vasgestel het dat die VSA veel meer moet doen as enige ander land om Navo sterk te hou, en het met dreigemente daarin geslaag om Duitsland te dwing tot groter bydraes en betrokkenheid.

Op ’n vraag wat Rusland se houding sal wees as die VSA troepe na Pole stuur, het die president gesê dit stuur ’n sterk boodskap aan Moskou, maar ook aan Duitsland wat miljarde dollar se gas van Rusland koop.