TLU SA dring aan op veranderinge vir sinvolle begroting

President van TLU SA
Die Minister van Finansies, Tito Mboweni maak Woensdag die spesiale aanpassingsbegroting of ‘noodbegroting’ rondom COVID-19 bekend.
Uiteraard is ‘n begroting vir enige besigheid, insluitende die land, noodsaaklik. Maar, dit is ook bykans onmoontlik om ‘n sinvolle begroting uit niks uit op te stel.
“’n Land se begroting gaan oor sinvolle spandering in belang van die inwoners van die land,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Daar kan kwalik beplan word om iets uit te gee wat jy nie het nie. As die land dan nog verder sukkel om enige bekostigbare lenings te kry omdat die regering se beleidsomgewing direk tot rommelstatus gelei het, is ‘n aangepaste begroting eintlik maar redelik nutteloos.
“Suid-Afrika se skuldlas – wat reeds in die omgewing van 80% draai – is verby alle logiese grense,” sê hy. “Die kapasiteit om dit uit belastinginkomste te kan diens word by die dag kleiner. Die ANC kan nie van die vuisvoos belastingbetalers verwag om nog meer geld in die bodemlose ANC-put te stort, terwyl hierdie onaanvaarbare en vernietigende regeringstyl gehandhaaf word nie.”  
Landbou is ‘n kernbedryf waarom baie sekondêre bedrywe en werksgeleenthede gevestig is. Vir landbou om na behore te funksioneer is stabiliteit noodsaaklik. Die uitbreiding en instandhouding van infrastruktuur is broodnodig om produkte te vervoer. Dit is ook van kardinale belang dat rampbestuur deursigtig en sonder enige rassefokus geskied.    
Minister Mboweni se grootste uitdaging sal wees om ‘n begroting daar te stel wat stimulerend sal wees vir ekonomiese groei. Gegewe die finansiële stand van die fiskus behoort elke besluit eers getoets te word aan die invloed op groei. Die begroting sal slegs geloofwaardig wees indien die volgende aspekte aandag ontvang: Dank alle onbevoegde staatsamptenare af en pas staatsdienssalarisse aan tot rasionele perke; Vervolg alle politici en staatsamptenare wat gemoeid is met korrupsie om die kabinet te suiwer; Skep ‘n onafhanklike  tenderraad wat alle staatstenders volgens ‘n deursigtige prodedures moet goedkeur. Die tenderraad moet saamgestel word uit die onderskeie politieke partye, onder voorsitterskap van ‘n regter; Suiwer die SAPD van onbevoegde en korrupte lede en bekamp alle misdaad effektief; Staak kader-ontplooiing op alle vlakke en stel mense op grond van kundigheid – ongeag ras – aan; Staak alle beleidstandpunte soos onteiening sonder vergoeding, SEB en die nasionalisering van die Reserwebank wat beleggersvertroue afbreek; Staak die ‘struggle’- mentaliteit en word ‘n regering wat besluite neem in belang van die land se inwoners, nie om selfverrryking nie.
“Voordat enige spandering verder aan die ANC-regering toevertrou kan word, móét die bogenoemde aspekte toegepas word,” sê mnr. Meintjes. “Daarsonder sal geen begroting sinvol geïmplementeer kan word nie. Die plundering van die staatskas is al sinoniem met die ANC se bestaan. Ons, die belastingbetalers wat graag aan die toekoms van die land wil bou, kan nie verder die regering se mislukkings en spandabelrigheid finansier nie.”