Navo benodig meer Duitse leierskap

In ’n eksklusiewe onderhoud met die media het die Sekretaris-Generaal Jens Stoltenberg ’n beroep gedoen op Berlyn om ’n groter en meer prominente rol te vervul in Navo.

Die oproep kom nadat die VSA aangekondig het dat hy duisende troepe uit Duitsland gaan onttrek, en wat volgens militêre deskundiges ’n ernstige leemte sal laat in Navo se magte.

Stoltenberg erken dat Duitsland reeds ’n beduidende rol vervul, maar sê die land se leiers behoort ’n groter invloed uit te oefen in die alliansie se strukture.

President Donald Trump het ’n week gelede aangedui dat sy regering besluit het om 9,500 Amerikaanse troepe te onttrek uit Duitsland.

Trump het daarmee ook bekend gemaak dat sy administrasie die onttrekking oorweeg sodat die VSA se troepemag in Duitsland verminder word na 25,000.

Vroeëre optrede van Trump het Duitsland verplig om ’n groter finansiële rol te vervul, en ander Navo lidlande se finansiële bydraes is ook verhoog, wat deur kenners beskryf is as uitstekende diplomasie van die Amerikaanse president.