Motor rubriek – Hyundai Atos 1,1

Die Hyundai Atos kan beskryf word as “mossie maar man” motor. Oor die laaste aantal jare het hierdie motor dit bewys as ‘n betroubare motor wat in sy gebied nie terugstaan vir ander motors nie.

Die heel nuutste Atos is die ideale motor vir die eerste koper van ‘n motor of as ‘n tweede motor. Alle moontlike toerusting vir ‘n basiese model motor is gepas en dit is eintlik ‘n indrukwekkende lys van toerusting. Die veiligheidsaspek is nie agterweë gelaat nie en ABS remstelsel met EBD hulp is gepas en aan die binnekant van die motor is daar twee lugsakke gepas om behulpsaam te wees met beskerming vir die insittendes. Op die voorste wiele vir die remme word soliede skywe en vir die agter wiele word rommels gebruik.

Die binne-afwerking van die motor is van ‘n hoë standaard met sintetiese materiaal afwerking op die sitplekke wat maklik skoon gehou kan word. Alhoewel harde plastiek gebruik is vir beskerming op die deure, is dit van goeie kwaliteit. In die middel van die instrumentpaneel is ‘n 7 duim aanraakskerm gemonteer. Op die aanraakskerm is daar voorsiening gemaak vir Bluetooth en CarPlay en nog vele ander toerusting en daar is ‘n USB poort beskikbaar waar toerusting ingeprop kan word. Op die stuurwiel is daar skakelaars aangebring vir die beheer van sommige van die toerusting wat onder andere die radio insluit. Regvoor die bestuurder is die maklik leesbare instrumente gemonteer. Die voor en agter deure maak wyd oop en daar kan met gemak ingeklim word.

Die voorste sitplekke kan meganies verstel word en selfs, al is die bestuurder se sitplek op die verste teruggeskuif, is daar nog redelik beenspasie vir die agterste passasiers. Die voorste vensters word elektries oop en toe gemaak terwyl die agterste vensters met die hand oop en toe gemaak word.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word is daar ‘n 1,1, liter kragbron gepas wat 50 kW krag en 99 Nm wringkrag voorsien. Dit mag nie baie wees nie maar met ‘n bakwerk wat 866 kg. weeg, is dit dit meer as genoeg om die luikrug met gemak te laat reageer. Aan die kragbron is ‘n vyfspoed handratkas gekoppel wat die voorwiele aandryf. Die ratskakeling is seepglad en dit is moeite vry. Na verneem word is die brandstofverbruik ‘n ekonomiese 5,7 l/100 km.

Van voor gesien is die sierrooster met mat swart afgewerk en die hoofligte vorm deel van die voorste modderskerm en buffer.

Langs die kant is die bakwerk versterk en verstewig deur bykomende “ribbetjies” in te werk. Die deur handvatsels is dieselfde kleur as die bakwerk en die staal wielnawe neem 165/70 14duim bande en plastiek wiel doppe is gepas. Die sykant spieëls is meganies verstelbaar en is met mat swart afwerking afgewerk.

Van agter gesien is die bekende skuins Hyundai kenteken in die middel van die bakwerk gemonteer en wanneer die bagasiebak deksel, wat hoog oopmaak, oopgemaak word is daar genoeg ruimte in die bagasieruimte vir ‘n naweek koffer of twee. Die agterligte is om die hoek van die bakwerk gebou en kan duidelik van die kant deur aankomende verkeer gesien word. Bokant die agterste venster is ‘n drukvlerk as deel die deksel ingebou en dit help om stof op die agterste venster tot die minimum te beperk.

Alhoewel hierdie die ideale motor is vir dorp of stad vervoer, pak dit die snelweg of selfs ruwe grondpad met gemak aan. Vir ‘n basiese motor is die padgedrag uitstekend en kan die motor werklik geniet word.

Wanneer u in die mark is vir ‘n eerste of ‘n tweede motor aanvullend tot u huidige vloot, kan u dit gerus oorweeg om een aan te skaf en dit dus op u aankope lys plaas. Hierdie is ‘n wenner en kan gerus geneem word vir ‘n toetsrit.