Besin eer ons begin

Die spreekwoord wat menigmaal die Afrikanervolk laat wag het voordat ’n daad aangepak word, het ook vele male gesorg vir wyse besluite, en een daarvan was die besinning voor die Tweede Vryheidsoorlog begin is.

Nou, na 120 jaar sedert die oorlog teen die Britte beëindig is, sal die Afrikaners, oftewel die Boere-Afrikaners, miskien weer moet besin, maar hierdie keer oor hoe begin kan word om as volk staande te bly.

Na die Vrede van Vereeniging in 1902 was armoede een van die volk se grootste probleme, en met afgebrande plase en hulle vee wat gesteel is, was dit ’n troostelose vooruitsig op oorlewing, en sekere Brise politici het gemeen die Boerevolk is die finale nekslag toegedien.

Sedert 1903 tot 1948 was die Afrikanervolk se aanwas in getalle die grootste ooit in die geskiedenis van ons volk.

Dit was ’n bedekte seen, want uit daardie armoede, het en of twee kinders uitgestyg bo die gemiddelde jongeling, en het die mooiste uit die volk gebore geword met seuns en dogters wat die volk weer opgehef het tot ’n trotse, gelowige Christenvolk. Met die Reddingsdaadbond se geldjies is geleerdheid gegee aan belowende kinders en sterk leiers het binne drie dekades na vore gekom om koers en rigting te gee, wat ook die uiteindelike politieke mag sou neem in 1948.

Minstens twee volkskongresse het Afrikaners aangespoor om uit te styg en die Britse kroon het met kommer gesien dat die Boer nie verslaan is nie.

En nou staan die volk weer voor die deur van ’n omstandigheid wat hom dwing om die pad van die verlede weer op te spoor en weer te bou aan dit wat nodig is om ekonomies bo uit te kom en die vryheid van ons mense te herwin.

Om dit werklikheid te maak, moet die wiegie weer sy plek in elke jong egpaar se huis vind, moet die gejaag na rykdom plek maak vir eerbare harde werk, en sal die een na die ander volkskongres nodig wees, want voor ons begin, moet ons besin.