Behoud van die Afrikaner se kulturele erfenis nie ʼn gegewe in ‘demokratiese’ SA

Pres. M. T. Steyn

Dit het toe in die Vrystaat, soos verwag kon word, daartoe gekom dat die Afrikaner se kulturele erfenis in bepaalde akademiese kringe tot aanstoot geword het. Die afloop van die sogenaamde openbare konsultasieproses oor die pres. Steyn-standbeeld en wat daarop gevolg het, behoort vir regdenkende Afrikaners genoegsame aanduiding hiervan te wees. Die behoud/bewaring van ons kultuurerfenis dra vir die politieke owerhede en die owerhede van sekere akademiese instellings geen gewig nie. Hoe gouer Afrikaners dit besef hoe beter.

Die debakel rakende die hantering van die pres. Steyn-standbeeld kan en moet as ʼn sprekende voorbeeld voorgehou word, wanneer dit oor die Afrikaner se kultuurerfenisse gaan. Eers was dit die onverkwiklike taalkwessie. Histories is dit so dat die Afrikanerbelang oor dekades heen aan die Universiteit van die Vrystaat(UV) gevestig is. Hierdie posisie was blatant geminag toe die besluit enkele jare gelede geneem was dat slegs Engels voortaan die onderrigtaal sou wees. Afrikaans moes eenvoudig swig voor die aanslag van andersdenkendes.

Daarna, in 2018, begin die UV met die openbare konsultasieproses oor die Steyn-standbeeld. Na waarneming sou hierdie uiteindelik as die finale en klinkklare toets kon dien van hoe die Raad van die UV teenoor die Afrikaner se kultuurgoedere ingestel is. En inderdaad het die Raad daardeur getoon met watter diskriminerende vooropstellings daar oor hierdie vir die Afrikaner kosbare erfenis geoordeel word. Kulturele en ander instellings en individue was weliswaar uitgenooi om aan die konsultasieproses te neem, maar was klaarblyklik, wat die UV-raad betref, blote formaliteite wat nagekom moes word. In retrospek dui alles daarop dat die Raad uit die staanspoor daarop uit was dat die proses geneem moes word tot die punt waar die standbeeld uiteindelik verwyder sou kon word.

Die Steyn-standbeeld word deur ons gehuldig, aangesien dit as ‘n lewende monument beskou word van die Afrikaner se strewe na gehalteonderwys; ’n mens sou ook kon sê Christelike onderwys in die Vrystaat vir ons volk. Pres. Steyn se onvermoeide ywer vir sodanige onderwys is deur die destydse Afrikaanse Studentebond vereer (1917-1929), waarin hy as die verpersoonliking van hierdie grootse ideaal en strewe gesien word.

Teleurstelling moet derhalwe uitgespreek word dat kultuurorganisasies van wie ʼn mens dit sou kon verwag, hulle nie teen die verskuiwing uitgespreek het nie. Daar was trouens ook weer dié wat met polities-korrekte kniebuiging hulle soos volg uitgespreek het: “As ons moet skuif dan skuif ons”. Dit is maar telkens daardie Afrikaner in sekere geledere wat bly toegee aan die marginalisering van die Afrikaner en sy belange – hoe ver nóg, wil ’n mens vra!

In die finale instansie was dit slegs die Bloemfonteinse Kultuurvereniging, die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys en die Afrikaanse Protestantse Kerk van Bloemfontein asook talle individue wat tot die einde toe sterk weerstand gebied het. Die argument dat, indien daar in hierdie geval toegegee sou word tot die verskuiwing, dit ʼn presedent sou skep vir die voortgaande aftakeling van prominente standbeelde/ monumente van ons volk, het skynbaar op dowe ore geval. Dit bly steeds ʼn vreemde verskynsel onder sommige van ons volksinstellings dat daar geredelik toegegee word onder die druk van owerhede wanneer dit by eie kultuurerfenisse kom. Dit wil voorkom of die uitgediende idee van politieke korrektheid nog steeds ʼn houvas op baie lede en instellings onder ons volk het, in plaas daarvan om op te staan vir wat reg is. Daarom kon teenstand teen die verwydering van die standbeeld nie solidêr uitgeoefen word nie, en het dit die besluit t.g.v. verskuiwing vir die UV-raad maklik gemaak.

Met openbare teenstand tot ʼn appèlstadium deur die genoemde instellings (teen verskuiwing) gevoer, kon die verskuiwing desondanks uitgestel of vertraag word. Die UV-raad was genoop om planne vir die voorgenome verskuiwing in 2019 op die langebaan te skuif, ten einde die appèlle te akkommodeer. Die verloop van die openbare konsultasieproses het egter deurgaans die ongemaklike indruk gelaat dat dit, wat die UV betref, slegs maar ʼn formaliteit sou wees wat agter die rug gekry moes word, ten einde sy doel te bereik, naamlik dat die standbeeld uiteindelik van die kampus verwyder word.

Die misplaaste verwagting wat sommige van ons mense in Afrikanergeledere nog mag hê dat die Afrikaner se belange in hierdie land nog op enige wyse beskerm sal word, kan ons maar vergeet. Die hantering van die Steyn-standbeeld dien as bewys dat daar geen aanvoeling meer vir die bewaring van ons kultuurerfenisse by owerheidsgesteunde organe en instellings wat op een of ander wyse aan die staat gekoppel is, bestaan nie. Wat nog in die SA-grondwet hieroor geskryf mag staan is van blote akademiese belang.

Die feit dat die UV-raad die saak, t.s.v. die appèl wat in verlede jaar nog tot die einde toe gedryf was, tot by die punt wou neem waar die UV sy sin sou kry, moet vir reggeaarde Afrikaners as ʼn waarskuwing dien: ons kultuurerfenisse in hierdie land verkeer in groot gevaar. Meer nog, dit bring die oortuiging dat ons nie ander kan vertrou met ʼn kosbaarheid soos hierdie nie. ʼn Mens sou kon hoop dat dit ons uit ons gerustheid dat ons kultuurerfenis nog in veilige hande mag wees, sal laat wakkerskrik. Ons het die uitwerking daarvan nou in die Vrystaat reeds eerstehands beleef en moet nie verwag dat dit met die behartiging van ons kultuurerfenis deur vreemdes vorentoe enigsins beter sal gaan nie. Die kernvraag is: wat gaan reggeaarde Afrikaners doen, ten einde die aftakeling van wat deur ons as kosbare Godgegewe erfenis bejeën word, met beslistheid te begin teenwerk?

Daar is slegs een oplossing/uitweg uit hierdie onhoudbare toedrag van sake: ons sal as volk ons daadwerklik daarvoor moet beywer dat ons weer kan vrykom onder die dwingelandy van die gewaande ‘demokrasie’ uit, sodat ons oor onsself kan regeer. Die tyd daarvoor het nou ryp geword en daar sal gehandel moet word voordat ons uiteindelik alles moet prysgee.