Virus: SA moet sy eie weg vind

ANC Minister Mkhize het probeer verduidelik hoe ander lande se advies tot op ’n sekere vlak in Suid-Afrika gebruik word in die stryd teen die COVID-19 virus wat sy oorsprong in Sjina het.

Die minister sê daar is geen finale formule in die wereld en daarom moet die regering wysigings in bestaande advies aanbring vir die situasie in die land.

Hy sê dat daar volgens die WGO ’n vermindering in maatreëls kan kom sodra die infeksies verminder, en wys dan daarop dat dit in SA nog steeds ’n toename in nuwe gevalle is, wat verslapping van maatreëls bemoeilik.

Hy erken egter dat die mense van die land, veral die armer deel van die bevolking, voedsel en ’n werk nodig het om te bestaan, en daarom is dit noodsaaklik dat heropening van die ekonomie ook moet plaasvind.

Suid-Afrika verskil in baie aspekte met die res van die wereld, en daarom moet ’n eie unieke roete gevolg word om die koronavirus pandemie te bestuur, het hy gesê.

Hy het sy kommer uitgespreek oor die situasie in die Wes-Kaap wat nou meer as 60% van die land se totale infeksie gevalle het, en reken die land kan nie so ’n toestand bekostig nie.