Van resessie tot depressie

In die dertigerjare van die vorige eeu het Suid-Afrika gebuk gegaan onder die knellende depressie wat baie mense sonder inkomste gelaat het, en armoede die reël was teenoor die uitsondering van mense wat ’n werk met inkomste het.

Die ekonomiese hartklop van Suid-Afrika is in Sentraal Transvaal (Gauteng) gevestig, waar groot nywerhede en vervaardigers, mynwese en enorme sakeondernemings gevestig is.

Dit is egter hierdie selfde bedrywe wat nou steier teen die werklikheid van die impak wat koronavirus se inperkings maatreëls tot gevolg het. Maatskappye het miljoene Rand se verliese getoon sedert die land ekonomies tot stilstand gekom het.

In dieselfde tyd het die resessie op die land toegeslaan, en word daar nou voorsien dat Sentraal Transvaal alleen so veel as 2 miljoen mense werkloos gaan laat.

Dit skep ’n klimaat van algehele finansiële depressie, wat nog meer nadelige gevolge inhou en behoort daar nou ’n meesterplan op die tafel te kom om algehele ineenstorting te vermy.

Suid-Afrika sit met ’n enorme skuldlas, wat hom vir die eerste keer in rommel status laat beland het deur die graderings agentskappe.

Meningsvormers sê die uur het gekom dat die ANC president en sy kabinet sal moet gaan aanklop by die deskundiges in blanke geledere om te help keer dat die groot vrees nie werklikheid word nie.