Uit my Kuierkombuis

Ek hoop u het die suurlemoenbier van verlede week geniet!  Die bottel wat ons laaste oopgemaak het was die lekkerste.  Jy moet die suurlemoenbier so ‘n week laat staan.  Ek het ook dun gerasperde suurlemoenskil by die tweede suurlemoenbiermengsel gevoeg en ook nie die rosyne, suurlemoenselletjies en gerasperde skil deur ‘n doek gesyg nie.   Dit het beslis die bier nog geuriger gemaak! 

Hierdie week se resep is net reg vir die vieruur koffie of tee wat u in ‘n sonhoekie in u huis kan geniet met die koeler weer wat voorspel is en wat reeds dele van ons land bereik het!  Ek sien selfs al sneeu op plekke!  Hierdie week bak ons beskuit met dadels in!  Dit is nou regtig lekker.

VESELRYKE DADEL BESKUIT

Bestanddele

1kg growwe/veselryke bruismeel
5ml sout 

7ml bakpoeier

275ml suiker
250gr botter
500ml melk  en 40 ml bruin asyn

250g dadels grof gesnipper (Indien u pakkie los dadels gaan gebruik, deel een heel dadel dan in twee of drie stukkies afhangende van die grootte van die dadel)

2  ekstra groot eiers geklits

Metode:
1.  Meng die growwe bruismeel, bakpoeier en sout deur mbv ‘n ballon klitser.

2.  Smelt die botter,  suiker en gesnipperde dadels en roer deur.

3.  Koel die mengsel af deur die melk en asyn daarby te voeg en deur te meng.

4.  Voeg nou die geklitste eiers by en meng goed deur.

5.  voeg die nat bestanddele by die droëbestanddele en meng deur.

6.  Gebruik ‘n lepel wat in olie gesmeer is en skep lepelsvol in die voorbereide pannetjies.

7.  Bak die beskuit vir  30 min in die voorverhitte oond by 180*C.

8.  Stel die oond nou af na 160*C en bak vir verdere 30min.
9.  Haal die panne uit  die oond, keer uit op koelrakkie en laat heeltemal afkoel.

10. Die beskuit kan nou met ‘n skerp mes in vingers gesny word of as groter beskuite net los van mekaar gebreek word.

11. Droog uit by 100ºC oornag.

Die beskuit is heerlik,  en jy soek behoorlik ‘n beskuit met die meeste stukkies dadel!