Uit my Kuierkombuis

Die inperking het ons laat brood bak vir volk en vaderland!  Dit het gemaak dat ons ook  weer die ou resepte nader getrek het.  Dit bring my by dié week se resep vir broodpoeding!  Daar is ook heelwat variasies van die heerlike en maklike nagereg!

En wanneer jy afgetree is ……. kan jy net nagereg eet as jy wil  vir aandete!  Probeer dit gerus,  dit is heerlik!

Broodpoeding

10 snye brood, korsies afgesny

125 ml witsuiker

45ml botter

1 liter melk

Knippie sout

4 eiers geklits

Metode:

 Gebruik ‘n oondvaste bak met ‘n 3 liter inhoudsmaat vir die nagereg.

 Sny die broodkorsies af en sny in kwarte of in driehoeke (vertoon mooi) of in blokkies.

Strooi die suiker bo-oor brood.

Smelt die botter, gooi die melk en die laat melk net warm word (in mikrogolf of op die stoof)  Die melk moet nie kook nie.

Klits die eiers en gooi baie stadig by warm melk mengsel terwyl jy dit met balklitser inmeng en meng goed deur.

Gooi die louwarm mengsel oor brood blokke/driehoekies of blokkies, laat staan vir 5 minute sodat  die melk goed intrek. 

Bak vir 40 minute in voorverhitte oond van 180º C.

Berei nou die bolaag met die volgende bestanddele

Bolaag se bestanddele:

250 ml botter

500 ml witsuiker

knippie sout

2 eiers

10 ml vanielje geursel

 Meng alles saam net voor die baktyd verby is.

Sodra die broodpoeding klaar gebak is,  haal uit die oond en smeer die bolaag sommer rofweg oor poeding.

Plaas die poeding nou terug in oond vir ‘n verdere 20 minute tot mooi bruin gebak. 

Bedien met tuisgemaakte vla.  Heerlik!!

Wenke:

 Die snye brood kan vooraf met botter en appelkooskonfyt gesmeer word vir ‘n ryker en geuriger en luukser broodpoeding.

Voeg ‘n kwart koppie pitlose rosyne by wat oor die brood gestrooi kan word.