SÓ MOET JULLE DAN BID:

ONSE VADER WAT IN DIE HEMELE IS.

Wanneer die Here Jesus ons leer oor gebed, dan leer Hy ons dat ons nie soos die skynheiliges en die heidene moet bid nie (Mt. 6).

Dit is egter nie al nie. Hy leer ons hoe ons moet bid – dit wat die inhoud van ons gebede moet wees. Dit word saamgevat in die gebed wat Hy ons leer: die onse Vader (Mt 6: 9 – 13). Hier leer Hy ons dat ons moet bid vir ons geestelike en liggaamlike behoeftes.

Die gebed begin dan so: onse Vader wat in die hemele is. Tot nou toe het die Here Jesus dikwels gepraat van my Vader en julle Vader. Nou leer Hy ons onse Vader. Alreeds kyk Hy vorentoe na sy voltooide verlossingswerk. Op grond hiervan alleen kan ons God onse Vader noem.

Dit beteken dat wanneer ons tot God nader in die gebed, moet ons besef dat ons niks het nie. Ons kom met leë hande en plaas kinderlik afhanklik al ons vertroue op Hom wat ons Vader geword het.

Die wonderlike voorreg om God so te kan en mag noem: onse Vader.

Maar dan onse Vader wat in die hemele is. Ons bly bewus van die heiligheid en die almag van God, dat Hy in die hemel is en ons op die aarde, dat Hy die Gans Andere is, dat Hy God is en dat ons nietige sondaarmense is wat op niks aanspraak kan maak nie.