Sigarette – steeds verbode

Die verkoop van sigarette in die binneland van Suid-Afrika bly verbode, en gevolglik is daar miljoene Rand skade vir die Ontvanger van Inkomste.

Intussen floreer die onwettige sigaret sindikate wat miljoene Rand se sigarette verkoop waarvoor geen belastings na die Ontvanger gaan nie.

Vir die sindikate en die rokers is daar voordele, want die sindikate kry hulle sigarette maklik van die hand gesit, en die rokers betaal nie die sogenaamde “sonde belasting” wat gewoonlik op sigarette gehef word nie.

Die toedrag van sake het tot gevolg dat die verkoop van sigarette op hierdie onwettige wyse ’n permanente “sakeonderneming” geword het, wat later met groot moeite, indien ooit, gestop gaan word.

Die argument dat die verbod steeds van krag bly omdat dit die verspreiding van die pandemie bevorder, word nou sterk bevraagteken gesien in die lig daarvan dat sigarette tans op groot skaal verkoop word deur sindikate.