Perspektief: “Struggle”-liedjies en jakkals-streke

Terwyl die term “nuwe wêreld” oral gehoor word, en ons inderdaad byna daagliks nuwe onsekerhede in die gesig staar, is dit vandag ewe noodsaaklik om ook terug te kyk.

Die spreekwoord leer dat “ jakkals verander van haar, maar nie van streek nie …”.

Volgens die media is die “konserwatiewe stem van rede” eensklaps diegene wat vir 25 jaar en 11 maande ons mense oortuig het daar is ruimte vir ons ideale, ons selfbeskikking en ons kinders in hierdie land, binne die raamwerk van die God-lose grondwet.

Mense moet egter enkele belangrike vrae vra, vóórdat hulle hierdie jakkals-streke vir soetkoek opeet.

Kan die liberaal-humaniste van gister, die Prog’s van eergister, vertrou word dat hulle werklik ruimte soek vir almal in SA?

Waarom is diskriminasie verkeerd tydens ‘n noodtoestand, maar vir 25 jaar en 11 maande was dit aanvaarbaar?

Politieke partye wat in 2016 die jeug probeer werf het met “stel jongmense gebore na 1994 vry van indiensnemings-kwota’s” – dus is diskriminasie nie verkeerd nie mits dit slegs teen diegene toegepas word wat in die era van “bevoordeling” grootgeword het?

Organisasies wie nie kon wag om vleis te braai saam met JZ nie, is nou wêreldwys en klaarblyklike kampvegters vir ons volk?

Hulle bepleit skielik selfbeskikking – maar natuurlik selfbeskikking onder sosialisties-gesentraliseerde vakbondwese …

Met ʼn geskiedenis wat begin op die goudvelde van die ZAR, sameswering teen ons voorsate ter wille van rykdom, het volsirkel gerol tot “Ons praat saam, staak

saam en stem saam.’ Nou moet ons nog net saamsing.” –  bos berade met kaders uit die ANC en COSATU in 2012 wil nou ons volk se toekoms beding?

Sosialisme – in moderne vorme het die kommunisme en vakbondwese as twee kante van een munt ontstaan uit die krotbuurte van die industriële rewolusie.

Beide afgestem op mag deur rewolusie, deur omvêrwerping van bestaande ordes.

Dat ‘n bestaande orde baie verkeerde kan bevat, is menslik.

Hoe dit reggestel word, is deur reformasie op alle lewensterreine, nie deur rewolusie nie.

Sentrale beheer is die hoeksteen van die sosialisme – hetsy dit geskied deur politieke sentralisering, of sentralisering van die nie-regerings sector, die gemene faktore is sosialisme en sentrale beheer oor mense se lewens en toekoms, humanisties en los van suiwer beginsel.

Pasop om nie deur jakkals-streke mislei te word, en uit die pan binne-in ‘n  ander vuur te spring nie.