Opvoeding: Uitdagings is maar probleme

Die nuwe manier om probleme te versag met die woord “uitdagings” help nie veel om die erns van die saak te benader en op te los nie.

Die probleme wat die Departement van Onderwys nou in die gesig staar, is genoeg om enige iemand paniekerig te maak wat kinders na skole moet stuur.

Klaskamers wat ingerig is om 25 leerlinge te hou, is lankal oorvol met tot 45 leerlinge, wat die klas stampvol maak. Watter maatreël sal nou toegepas word om die een tot twee meter afstand tussen die kinders te verseker?

Met bykans ’n honderd skole wat in die afgelope maande beskadig en afgebrand is, word die tekort aan klaskamers al groter, terwyl die klasse so ingerig moet word dat die sosiale afstand gehandhaaf word.

As iemand gedink het klasse kan in twee vertrekke opgedeel word, dan is die volgende probleem waar sal die departement die onderwysers vandaan haal vir die tweede klas se kinders?

Die sosiale afstand moet gehandhaaf word op die skoolterrein, en leerlinge reken dit is belaglik, en ignoreer die regulasie. Wie word verantwoordelik gehou wanneer sodanige leerlinge wel infeksie opdoen by die skool?

Woensdag het die Minister van Gesondheid gesê die infeksie gevalle is nou net meer as 18,000 en die totale sterftes 339.