Nuwe hoop om SAL te red

Die reddingspan wat die bankrot lugredery van die staat, SAL, moet red van likwidasie sê daar is ’n geringe kans om die entiteit weer op die been te kry.

Die reddingspan het glo die opmerkings gemaak teenoor die ANC se Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan.

Die Sake Reddings Praktisyns en SAL se aandeelhouers voer tans gesprek oor die moontlikheid om die redery te herstruktureer en ’n aankondiging in die verband sal binnekort gemaak word sodra ’n finale ooreenkoms berik is.

Die administrateurs sê dit sal egter nodig wees om die volle samewerking en ondersteuning te kry, sowel as die nodige fondse, as die bankrot redery gered moet word.

Die reddingspan het glo reeds maatreëls ingestel wat ’n besparing van R500 miljoen elke maand teweegbring, en hoop om die bedryf meer ekonomies te bestuur sodra die koronavirus pandemie verby is.