Miljoene kan infeksie opdoen in Afrika

Die Wêreld Gesondheid Organisasie (WGO) se jongste studie oor die koronavirus verspreiding in Afrika dui daarop dat soveel as 231 miljoen mense op die kontinent infeksie kan opdoen.

Meer as 4,5 miljoen COVID-19 gevalle is reeds wêreldwyd bevestig, en die ergste verspreiding in Afrika het nog nie werklik begin nie.

Die WGO sê die pandemie is aan die afplat in Europa, maar dat Afrika nou in die opwaartse fase van die pandemie is terwyl Suid-Amerikaanse state ook ’n toename ondervind in nuwe infeksies.

Kommer bestaan oor die swak infrastruktuur wat in baie Afrika lande is, en met die beperkte gesondheidsdienste en min personeel, kan die sterftes veel hoër wees as wat algemeen verwag word.