Brasilië derde meeste infeksies

Terwyl die meeste lande in Europa ’n afplatting in nuwe koronavirus infeksies ondervind, is die teenoorgestelde in Brasilië besig om te gebeur.

In die afgelope week het Brasilië se aantal infeksies so vinnig gestyg dat hy nou die derde grootste uitbreking van alle lande beleef. Slegs die VSA wat die grootste syfers toon, en Rusland in die tweede plek het meer infeksie gevalle.

President Jair Bolsonaro is nie daarvan oortuig dat inperking maatreëls van waarde is nie, maar vereenselwig hom klaarblyklik met die siening van Swede waar geen inperkings maatreëls van toepassing is nie.

Die president het die afgelope naweek self die maatreël om afstand te handhaaf geïgnoreer en tussen ’n klomp kinders gestaan wat hom as hulle held beskou.

Brasilië staar nou ’n ernstige krisis in die gesig met die groot toename in infeksies, maar die president glo dit is beter om die sukkelende ekonomie op dreef te kry.

Die groot aantal kinders het hulle trou aan die president en sy familie gegee en gesê hy is hulle held en sal alles wat hy doen teen die wereld se mening verdedig.

Maandag was 7,938 nuwe gevalle aangemeld en is 483 sterftes geregistreer vir die tydperk wat die totale sterftes op 16,118 te staan bring. Tans is daar meer as 250,000 infeksie gevalle in die land.