Pandemie

Soos die res van die 200 lande in die wêreld ook al siek is vir nuusberigte oor siek mense weens die uiters aansteeklike korona virus, so word SA ook besig om moeg te raak vir die een negatiewe berig na die ander oor dieselfde onderwerp.

Dit is immers ’n metode van beriggewing wat die hoofstroom media probeer vermy, maar in die afgelope maand het niks anders op die wêreld front gebeur wat as nuuswaardig beskou word nie.

Met sterftes soos in Spanje waar bykans 900 mense binne 24 uur sterf, en ’n infeksie van regoor die wêreld wat nou die 800,000 verby gesteek het, word dit inderdaad ’n oorlog van die wetenskap teen ’n onbekende vyand wat ’n naam gekry het.

Voorspellings wat deur analiste en navorsers gemaak is, word nou as raaiwerk beskou weens die onakkuraatheid daarvan, en dit maak regerings en landsburgers senuweeagtig en paniekerig.

Die jongste wetenskaplike navorsing toon egter dat die virus pandemie nog baie maande kan duur, en dat goeie navorsers reken die toetse op mense kan eers in September begin, wat vir menige lande in die wêreld veels te laat kan wees om ’n totale ramp te voorkom.

Suid-Afrika het vroeg sy noodmaatreëls ingestel, maar of dit voldoende is om ’n binnelandse pandemie af te weer, word bevraagteken.

Die onsigbare vyand is in ons midde, en diegene wat steeds reken hulle kan onverskillig wees deur nie die inperking maatreëls te gehoorsaam nie, is die vyand se medewerker om die gehoorsame landsburger van ’n lang lewe te beroof.

Daarom sal dit wenslik wees vir Boere-Afrikaners om selfs na 16 April steeds met die grootste mate van versigtigheid deur elke dag te gaan, met gebed in die hart, en ’n wakende oog oor die bewegings van diegene in die huishouding.