Om gelowig te word

Die wêreldwye pandemie het ook sy voordele gebring, wat hopelik ook nadat die wereld teruggekeer het na ’n normale leefstyl, sal voortgaan om ook van ons mense tot inkeer te bring.

Die aankondiging van die Minister van Polisie dat misdaad dramaties afgeneem het weens die verbod op alkohol verkope en die inperking van mense, behoort ’n les te wees wat landsburgers, en veral die regeerders ter harte moet neem.

Suid-Afrika kan ’n veiliger plek word as nuwe benaderings gevolg word wat misdaad kan verminder, waarvan die verkoop van alkoholiese drank erntige aandag verdien.

In die VSA het ’n gesiene geestelike leier bekend gemaak dat die verkope van Bybels die hoogte ingeskiet het omdat bevreesde mense vir die koronavirus nou uit die Woord van God soekend is na hoop en vertroosting.

Dit beklemtoon weereens hoe belangrik dit vir ons volk is om vas te hou aan die geloof in die Drie-Enige God wat ons vaders beskerm en bewaar het sodat ons vandag nog as volk in hierdie land kan woon.

Die toevlug na die Woord behoort nie net in die dag van benoudheid te wees nie, maar moet elke dag se hoogste prioriteit wees, want ons is kinders van die Allerhoogste, en teen die hele wêreld vry.