Brandstofprys kan verder verlaag

Met die olieprys wat die afgelope weke die laagste is as wat dit in twee dekades was, kan motoriste verwag dat ’n verdere verlaging in Meimaand aangekondig gaan word.

Die olieprys sukkel om te herstel na hoër prysvlakke te midde van ’n internasionale ooreenkoms wat verlede week bereik is.

In die afgelope week kon die olieprys nie werklik styg soos wat verwag is nie, en selfs die Opec-lande se ooreenkoms kon nie ’n wesenlike bydrae lewer om die prys te laat styg bokant die $30 vlak nie.

Die daling in brandstofpryse sal egter nie soos die vorige daling, ’n skerp vermindering wees nie en word toegeskryf aan die swak vertoning van die Suid-Afrikaanse Rand wat sedert die afgradering na rommelstatus, net nie weer daarin kon slaag om kop op te tel nie.