Van Donderdag word jy ingeperk

Vanaf Donderdag word die hele Suid-Afrika ingeperk weens die aangekondigde noodtoestand weens die vinnige verspreiding van die koronavirus wat nou reeds die 400 merk van infeksies verbygesteek het.

Die regering het drasties maatreëls aangekondig wat elke inwoner van die land raak, en wat beteken dat geen individu sy huis mag verlaat nie, behalwe om kos of mediese preparate te koop.

Sakeondernemings moet sluit, behalwe voedsel verskaffers, apteke en ander ondernemings wat noodsaaklike middele verskaf.

Belastingtoegewings word gemaak, banke moet toegeefliker wees teenoor mense wat inkomste verliese het asook besighede wat verliese het.

Die regering het egter nie geld om bystand te verleen nie, want slegs R150 miljoen word opsygesit vir hulp, en as die nie was dat Oppenheimer en Rupert elkeen R1 miljard skenk vir hulp nie, sou die ellende nog groter gewees het.

Die inperking sal vir 21 dae geldig wees en die weermag sal saam met die polisie ontplooi word om toe te sien dat die aangekondigde maatreëls deur die burgery nagekom word.