Uit my Kuierkombuis

My Pa het ons altyd vertel dat sy Ma,  my Ouma van Wyk,  altyd van die oorskiet skaapboud,  die gaar vleis gemaal en dan daarvan bobotie gemaak het.  Tog het ek groot geword met bobotie wat met maalvleis gemaak word.  Ek het bietjie gaan oplees en op die volgende inligting wat deur Wikipedia geplaas is,  afgekom.

“Bobotie is ‘n eg Suid-Afrikaanse gereg wat bestaan uit maalvleis en speserye met ‘n eier-, melk– en borriebolaag. Daar was lank geglo dat die resep afkomstig is van die VOC kolonies in Batavia en moontlik afgelei van die Indonesiese gereg Botok, maar dit is meer waarskynlik dat dit reeds saam met Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het.[1] Die Hollanders het reeds teen die tyd geweet hoe om kerrievleis te berei. Dit was so algemeen dat spesiale potte reeds teen 1752 daarvoor vervaardig is, soos wat blyk uit ‘n boedelinventaris van die tydperk waarin ‘n bobotijkeetel (bobotiepot) genoem is.[1]

Die dis is in 1951 opgeneem as ‘n verteenwoordigende Suid-Afrikaanse gereg in ‘n internasionale resepteboek wat deur die Verenigde Nasies gepubliseer is.

Die gereg was al teen die 17de eeu bekend in die Kaap van Goeie Hoop, toe dit gemaak is van ‘n mengsel van skaap– en varkvleis. Deesdae word skaap- en beesvleis verkies. Die oorspronklike resepte het gemmer en suurlemoenskil bevat. Die ontdekking van kerrie het die resep vergemaklik, maar die basiese idee het dieselfde gebly. Oorspronklik was daar ook gebruik gemaak van rosyntjies of sultanas en deesdae word grondboontjiesblatjang en ook piesang gereeld gebruik.”  ….. aldus Wikipedia

Die resep wat ons gaan maak,  is met maalvleis ……… ewe geurig!

Geurige bobotie

1 dik sny witbrood
250ml melk
1 grooi ui, fyn gekap
25ml kookolie
60ml blatjang
10ml kerriepoeier

5 ml borrie
5ml suiker
5ml sout
Wit peper na smaak
500g binneboud maalvleis
2 eiers
4 vars suurlemoenblare

Metode:
1.  Week die brood in melk.
2.  Braai die ui in ‘n groot braaipan in olie tot ligbruin.
3.  Meng blatjang, kerrie, borrie, suiker, sout en peper en roer by ui.
4.  Druk die meeste van die melk uit die brood. Hou die melk eenkant.
5.  Maak die brood fyn en voeg dit by uiemengsel
6.  Voeg vleis  by en meng goed en voeg die blatjang by en laat mengsel ‘n rukkie kook, roer gereeld sodat dit nie aanbrand nie.
7.  Voorverhit die oond tot 180C
8.  Skep die vleismengsel in gesmeerde oondbak. Plaas vir ‘n paar minute in die oond.
9.  Plaas nou die 4 suurlemoenblare wat in tregtertjies gerol is,  in die vleismengsel. 

10.  Klits eiers en melk saam en gooi oor bobotie.  Begin by die tregtertjies sodat die melk en eiermengsel geleidelik oor die hele bobotie versprei.
11.  Bak die gereg nou vir 30 minute in die voorverhitte oond tot goudbruin.

Wenk:

Vr ekstra geur,  kan ‘n kwart koppie pitlose rosyne by die vleismengsel ingeroer word.

Bedien die geurige bobotie saam met geelrys of gewone langkorrel witrys of soos wat ek gedoen het,   gemeng met ‘n kwart koppie rooi rys,  asook ‘n skeppie soet pampoen of pampoenkoekies.  Rond die bobotie af met gesnyde piesangskyfies,  blatjang en ‘n teelepel klapper vir ekstra geurigheid!

‘n Heerlike gereg vir die herfsseisoen!  Geniet dit!