Uit my Kuierkombuis

Hierdie week het net te vinnig verby gegaan!  Die eerste twee maande van die jaar is iets van die verlede!  Die eerste herfsmaand sorg vir ‘n koel luggie laataand en ons begin ons herfsresepte nader trek.

Ons maak hierdie week ‘n heerlike geurige herderspastei.  Bedien daarmee saam ‘n tamatieslaai  afgerond met ‘n paar basiliekruiblare! Heerlik!

Herderspastei vir die herfs

Deel 1: Kapokaartappels 

4 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny – gaar gekook in bietjie water gegeur met sout

15ml botter

15ml fyngekapte ui

30 ml warm volroommelk

2ml bakpoeier

60ml gerasperde cheddarkaas

Sout en peper na smaak

Metode:

Kook die aartappels vir sowat 15 minute of tot die aartappels gaar  is. 

Dreineer en maak die aartappels fyn. 

Meng vervolgens die die botter, 1 eetlepel fyngekapte ui, en ¼ koppie gerasperde kaas by. 

Voeg sout en peper by na smaak en hou eenkant

Deel 2: Vleisvulsel

5 wortels, in repies of klein blokkies gesny

15ml olie

1 ui, gekap

600gr maalvleis

30ml  koekmeelblom

15ml tamatiesous 

15ml blatjang

200ml vleis aftreksel (beesvleis of groente ekstrakblokkie aangemaak in 200ml water)

sout en peper na smaak

1.  Voorverhit die oond tot 180 C. 

2.  Kook wortels vir ongeveer 15 minute of tot sag en maak fyn. 

3.  Soteer die  uie tot sag en voeg die maalvleis by en braai tot bruin. 

4.  Voeg nou die meel by en braai vir ‘n verdere minuut of twee. 

5.  Voeg die blatjang, tamatiesous  en vleisaftreksel by en bring die mengsel tot kookpunt,  verminder dan die hitte en prut vir 10 minute. Indien nodig kan sout en peper na smaak bygevoeg word, maar hou ingedagte dat die vleisaftreksel sy eie geurigmiddels het. 

6.  Die mengsel moet ‘n lekker dikkerige mengsel wees.

7.  Skep  die maalvleismengsel in ‘n plat bak. Skep die fyn wortels bo-oor en dan die laag kapok aartappels..

8.  Maak allerhande patroontjies met ‘n vurk se agterkant  en bak vir 20 minute of tot goudbruin in die voorverhitte oond van 180° C.

** Die puntjies van die kapokaartappels wat lekker bruin en bros gaan bak in die oond,   rond die eenvoudige gereg netjies af.