TLU SA: Riglyne teen koronavirus op plase

TLU SA het onmiddellik na President Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die nasionale ramp rondom COVID-19 (koronavirus), begin werk aan riglyne oor hoe ons lede die situasie kan bestuur. 
“Ons wil beklemtoon dat almal perspektief moet behou en nie oorboord moet gaan nie,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Die koronavirus het die potensiaal om ‘n enorme negatiewe impak te hê. Die gevaar is dat die persepsie oor die móóntlike gevolge dalk tot meer skade kan lei as die virus self. Die keuses wat gemaak word, hou reeds verreikende ekonomiese implikasies in. In die toekoms kan hierdie keuses nog ‘n groter impak op die volhoubaarheid van besighede hê. 
“Ons wil op geen wyse die indruk skep dat die situasie geïgnoreer kan word en ons net soos normaal met ons lewens kan voortgaan nie,” sê mnr. Meintjes. “Dinge is beslis nie normaal nie en ons moet daarvolgens handel.” 
Die minister van landbou, me. Thoko Didiza het Maandag, 16 Maart, ‘n dringende vergadering met die land se landbourolspelers belê om te bespreek hoe die situasie hanteer sal word. Alle rolspelers het die geleentheid gehad om insette te lewer en ‘n taakspan – bestaande uit die departement en georganiseerde landbou – is saamgestel. TLU SA dien op die taakspan.  
Die taakspan vergader op Donderdag 19 Maart en verdere besluite sal, soos wat dit ontsluit word, gedeel word. 
Tydens die ministeriële vergadering is bevestig dat veilings vir eers kan voortgaan, sodat die veehandelbedryf nie verdere skade ly na bek-en-klouseer dit vroeër vanjaar aan bande gelê het nie. Die doelwit is om voedselsekerheid te verseker en die landbou-ekonomie so ver as moontlik te beskerm. 
Die sukses van die regering se noodmaatreëls hang grootliks af van die burgerlike samelewing se bereidwilligheid om dit toe te pas. Ons lede moet verdere stappe neem om die skade wat die koronavirus kan veroorsaak, te beperk. 
Werkers:

Lig werkers behoorlik in oor die virus en hoe dit versprei;

Beklemtoon die belangrikheid van persoonlike higiëne en maak seker seep en water is beskikbaar sodat hulle behoorlik kan hande was;

Bespreek die gevare van sosialisering in groter gemeenskappe oor naweke terwyl daar nog onsekerheid is oor die momentum van verspreiding. Verduidelik die voordele van vrywillige afsondering;

Moniteer die gesondheidstoestand van werkers en hulle gesinne;

Doen langtermynbeplanning vir rantsoene wat ‘n lang raklewe het.  
Toegang tot plase 

Die plaasprotokol vir toegang tot plase moet nougeset toegepas word. Persone wat plase om welke rede ookal besoek, behoort gesigsmaskers te dra en moet hulself eers behoorlik reinig alvorens hulle kan aangaan met die beplande besoek se aktiwiteite;

Waak teen misdadigers wat die koronavirus gebruik om onder valse voorwendsels toegang tot plase te kry;

Oorweeg om plase as ‘n tipe kwarantyn-gebied te hanteer waar toegang slegs met goedkeuring gegee sal word.  
Misdaad 

Die onsekere omstandighede kan daartoe lei dat voorvalle van misdaad toeneem. Sodra plaaslike ekonomieë onder druk kom en daar nie meer voldoende produkte op winkelrakke is nie, kan ‘n toename in misdaad verwag word;

Maak voorsiening vir eie beskermende klere soos maskers en handskoene wanneer daar teen misdadigers opgetree of arrestasies gedoen moet word.  
“TLU SA sal namate die situasie vorder oorweeg of verdere maatreëls bygewerk moet word,” sê mnr. Meintjes. “Die prioriteit is nou om menselewens te beskerm en daarna volg die res.”