Taiwan-Sjinese spanning by breekpunt

Die kommunistiese Sjina is besig om geweldige druk op Taiwan te plaas met vegvliegtuie wat net buite die land se grens vlieg in ’n poging om die regering se senuwees te toets.

Die Sjinese het ook begin met ’n reuse veldtog van fop-nuus om verdeeldheid onder die Taiwanese kiesers te saai, en lewer verkeerde inligting oor die koronavirus.

Die Taiwanese regering reageer skerp op alle fop-nuus berigte en pamflette wat versprei word, maar is ook bekommerd oor die toenemende spanning wat uit die optrede voortvloei.

Die virus uitbreking het reeds ’n groot rol vervul om die spanning tussen Taipei en Beijing te verhoog, en die Taiwanese regering is ontsteld oor die Sjinese se optrede om hulle te blokkeer om nie die Wêreld Gesondheid Organisasie se vergadering oor die virus by te woon nie.

Die twee owerhede het ook ernstige probleme met mekaar ondervind oor die meer as 1,000 mense in Sjina wat Taiwan probeer terugbring weens die virus infeksie.

President Tsai Ing-wen se oorwinning by die stembus is egter die hoofrede waarom Sjina die druk verhoog, want die president het begin om sterker bande met die VSA te vestig, terwyl Sjina daarby staan dat Taiwan deel van die Sjinese ryk is.