Switserse dorp moet ontruim word

Sowat 3,500 metrieke ton ammunisie is steeds binne in ondergrondse vestings in die Switserse dorp Mitholz waarvan ’n deel in 1947 ontplof en talle mense se dood veroorsaak het.

Met die ontploffing is nie net mense gedood nie, maar verskeie geboue in die nabyheid is ernstig beskadig.

Nou het die owerheid besluit om die gevaar uit die weg t ruim, en afhangende wat nog oorgebly het van die derduisende tonne ammunisie, moet dit verwyder word.

Die ammunisie is egter weens die destydse ontploffing met ’n rotsstorting bedek, en die verwydering kan tien jaar duur volgens seniors by die Switserse Weermag.

Die verwydering sal ’n moeisame taak wees, en die inwoners van die dorp sal elders gehuisves moet word vir die volgende tien jaar.

Die gevaar dat nog ’n ontploffing kan plaasvind weens ’n natuurverskynsel soos ’n aardskudding, is nie uitgesluit nie, en daarom is besluit om die ammunisie te verwyder.

Die opruiming gaan egter eers in 2031 begin, en word beskou as een van die duurste projekte wat nog deur die weermag aangepak sal word.