Motor rubriek – Renault Kwid 1,0 Climber m/t

Die Renault Kwid is die ideale motor vir ‘n beginner meninde vir die aankoop van ‘n eerste motor maar aan die anderkant is dit ook die ideale motor vir ‘n tweede motor in die gesin.

Toe die eerste Kwid op die toneel verskyn het, was daar aanvanklik baie kritiek daarteen uitgespreek betreffende veiligheid en padhouvermoë. Oorspronklik het ABS remme nie deel uitgemaak van die toerusting nie en 13 duim wiele is gebruik. Die remvermoë was uiteraard nie baie doeltreffend nie en die insittendes se beskerming teen byvoorbeeld beserings na ‘n botsing was nie na wense nie.

Getrou aan sy aard het Renault kennis geneem van die kritiek en het die ingenieurs hulle werk aangepas en op die nuwe Renault Kwid is ABS remme met EBD ondersteuning standaard toerusting. In die eerste Renault Kwid’s was daar slegs een lugsak gemonteer maar in die 2020 model is daar ‘n bykomende lugsak gepas.

So is die 13 duim wiele vervang met 14 duim wiele en dit kan 165/70R 14 bande neem.

Dit maak ‘n groot verskil aan die padhouvermoë en derhalwe het dwars winde nie meer so groot invloed op die voertuig nie. Deel van die verbetering van die padhouvermoë is dat die Franse ingenieurs aanpassings aan die agterste veerstelsel aangebring het om dit meer “stewig” te laat reageer. Staal wielnawe word gebruik met plastiek wiel bedekking. Die noodwiel is ‘n vol grootte staal wielnaaf.

Van die voorkant gesien is daar opgradering van die sierrooster en hele voorkant gedoen en die Renault embleem is meer prominent en die parkeerligte het ‘n oranje rand om wat dit meer beklemtoon. Die hoofligte en kolligte is herontwerp en ook die onderste luginlaat is verander om ‘n beter lug vloei oor die enjin te voorsien.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word is daar ‘n 999 kub. duim, drie silinder, dwars gemonteerde, dubbel oorhoofse nokas, 12 klep kragbron te sien wat 50 kW krag voorsien teen 5500 o.p.m. en met 91 Nm wringkrag teen 4250 o.p.m. Na verneem word is die brandstofverbruik 6,1 l/100 km en die brandstofhouer neem 28 liter wat so effe min is en dit het tot gevolg dat daar redelik gereeld brandstof ingegooi moet word.

Van die kant gesien is die beskerming wat op die deure aangebring is duidelik sigbaar en maak die deurhandvatsels deel uit van die deure – dit is m.a.w. plat gemonteer.

Die agterkant is duidelik sigbaar met oranje inlegsels aan die onderkant en die drukvlerk maak deel uit van die agterklap. Grondvryhoogte is 180 mm en met die agterklap oop is dit moontlik om 279 liter bagasie te laai en wanneer die sitplek rugleunings plat gevou word, kan dit 620 liter bagasie neem. Onder die bekende Renault embleem is die naam “KWID” aangebring met die “RENAULT” naam aan die linkerkant op die agterklap.

Wanneer in die voertuig ingeklim word aan die bestuurder se kant is dit opmerklik hoe dit in eenvoud afgewerk is maar tog duursaam. Harde plastiek word gebruik en die stuurwiel pas gerieflik in die hand palms. Die maklik leesbare instrumente is regvoor die bestuurder gepas en behalwe dat die snelheidsmeter deel uitmaak van die instrumente verskyn die snelheid ook in syfers op die instrumentpaneel. Die toereteller maak deel uit van die instrumente en in die middel van die instrumentpaneel is die aanraakskerm gepas asook verskeie ander skakelaars wat van die toerusting beheer. Deel van die toerusting is ‘n tru-kamera en ook tru parkeer sensors.

‘n Gemaklike sitposisie kan ingeneem word en alhoewel die sitplek nie hoogte verstelbaar is nie, kan die sitplek leuning genoegsaam verstel word. Vir die agterste passasiers is daar genoeg plek en selfs die met lang bene, kan geakkommodeer word.

In die dorp/stad is die Kwid in sy element maar selfs op die oop pad lewer dit goeie diens. ‘n Voordeel van die hoë grondvryhoogte is dat dit selfs op grondpaaie baie goed van sy taak kwyt.

Soos reeds genoem is hierdie die ideale voertuig vir ‘n eerste voertuig eienaar maar is dit ook ideaal as ‘n tweede motor in ‘n gesin en derhalwe word aanbeveel dat indien dit nodig is om ‘n nuwe motor aan te skaf, kan u gerus u naaste Renault handelaar gaan besoek.