Motor rubriek – Isuzu MU-X 3.0 4×4 AT

In die sportnuts motor afdeling heers daar strawwe kompetisie maar die Isuzu MU-X staan vir nie een ander voertuig in hierdie vlak terug nie.

Soos met al Isuzu se voertuie is die MU-X se afwerking van hoogstaande gehalte en met die gebruik van die D-Max as basis, is daar verseker dat daar geen twyfel bestaan watter voertuig dit is nie. Vir die sierrooster waarin die Isuzu naam gemonteer is, is daar aansienlik chroom afwerking gebruik en die LED hoofligte vorm ‘n eenheid met die sierrooster en die voorste modderskerms terwyl die mat swart afwerking van die luginlaat gedeelte aan die onderkant, weer ‘n eenheid vorm met die chroom gedeeltes waarin die kolligte gepas is.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word, is die beproefde , vier silinder, 2999 kub. sentimeter, turbo aangejaagde, diesel enjin in plek om die werk te verrig. 130 kW is beskikbaar teen 3600 o.p.m. en die wringkrag van 380 Nm is beskikbaar teen lae toere van 1800 o.p.m. Na verneem word is die brandstofverbruik ‘n gerieflike 9 l/100 km en die brandstofhouer neem 65 liter. Dit verseker dan ook dat hierdie voertuig die ideale sleep voertuig is en kan dit met die ses spoed outomatiese ratkas gebruik word om byvoorbeeld ‘n woonwa of sleepwa te sleep. Bring die 4×4 gedeelte by en jy het ‘n wen kombinasie in plek. Op die voorste veerstelsel word daar gebruik gemaak van ‘n onafhanklike veerstelsel met spiraalvere en op die agterste stelsel word daar gebruik gemaak multi verbintenis stelsel met spiraalvere. Hierdie beproefde veerstelsel verseker rygerief van hoogstaande aard.

Verdere hulpmiddels beskikbaar is stabiliteit beheer, afdraande beheer, teen ‘n skotige opdraande wegtrek hulp, Eaton Mlocker outomatiese agteras sluit ewenaar en met al hierdie hulpmiddels in plek kan enige padtoestand aangepak word. Daar is selfs lae strek rat hulp beskikbaar.

Op die snelweg sowel as op die strand is die Isuzu in sy element en kan dit met die ses speek allooi wielnawe bykans enige padtoestand aanpak. Vir die natuurliefhebber is dit die ideale voertuig met die agterste venster wat om die hoek van die voertuig aan die agterkant gebou is, is die uitsig na buite in almal se smaak. ‘n Drukvlerk maak deel uit van die agterste deur asook ‘n veër wat help om die venster skoon te hou van stof. Die agterligte vou om die hoeke en vir verkeer van die sykant is dit duidelik sigbaar. Tussen die agterligte is daar ‘n chroom strook aangebring wat gebruik word om die agterste deur mee oop te maak. Wat hierdie voertuig baie gewild kan maak is die vertrek hoek van 230 mm wat dit moontlik maak om skuins pad gedeeltes maklik te kan baasraak. Wanneer die agterste deur oopgemaak word en die sitplekke is weggevou, is daar ‘n groot bagasieruimte beskikbaar wat selfs lang bagasie kan huisves.

Om dit maklik te maak om in die voertuig in te klim, is daar aan beide kante ‘n intree trap gemonteer en vir die wat se bene nie lank is nie, is dit ideaal. Binne-afwerking is van hoë standaard met al die nodige en selfs meer toerusting beskikbaar. Die bestuurder se sitplek het verskeie verstelling en ‘n gemaklike sit posisie kan met gemak gekies word. Van die toerusting wat geïnstalleer is sluit in lugversorger, radio, aanraakskerm, lugsakke, toereteller, snelheidsmeter, brandstofverbruik aanduiding, die sykant vensters word elektries beheer en nog vele meer. Al die instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer en kan duidelik deur die boonste gedeelte van die stuurwiel gelees word. Vir agterste passasiers is daar baie plek vir lang bene – selfs met die bestuurder se sitplek sover as moontlik terug geskuif.

Die veiligheidsaspekte van die voertuig is nie agterweë gelaat nie en ABS remme met alle moontlike hulpmiddels is in plek en dit kan onder nood toestande maklik tot stilstand gebring word.

Hierdie is ‘n voertuig vir die fynproewer en die gebruike daarvan is velerlei. Moeder kan dit gebruik vir vervoer van die kleingoed skool toe en die gesin kan dit gebruik vir ‘n besoek aan die wildtuin. Dit word aanbeveel dat sou u in die mark wees vir ‘n sportnuts voertuig, kan u dit gerus op u aankopelys plaas.