Luxemburg: Openbare vervoer nou gratis

Die Europese stadstaat Luxemburg, wat ’n welvarende en onafhanklike staat is, het besluit om die verkeersprobleem die hoof te bied op ’n besondere wyse.

Die stadsvaders het besluit om alle openbare vervoer met busse en treine gratis aan inwoners beskikbaar te stel met die verwagting dat meer mense daarvan sal gebruik maak en minder eie vervoer sal gebruik.

Luxemburg is die eerste staat ter wêreld wat so ’n stap neem, maar het besluit dat die super-luukse treine nie gratis vervoer sal bied nie.

Die Minister van Vervoer, Francois Bausch, het die aankondiging gemaak en gesê dit is nog ’n groot dag in die Modelstaat wat die eerste in die wêreld is om so ’n stap te neem ten einde stadsverkeer meer vloeiend te maak.

Die stad het daagliks sowat 214,000 buitelandse besoekers en die nuwe reëling sal bydra tot beter verkeersvloei en minder parkeer probleme vir veral besoekers uit Duitsland, België en Frankryk.

Tot hede was openbare vervoer betaalbaar teen sowat €2 per kaartjie, en beloop die inkomste daaruit €41 miljoen, wat slegs 8% van die stad se vervoer begroting is van nagenoeg €500 miljoen.