Koronavirus versprei na 60 lande

Die koronavirus het reeds na 60 lande versprei, en die toename in infeksies het die 90,000 merk bereik terwyl die totale aantal sterftes reeds 3,000 is.

Die verspreiding word ’n toenemende gevaar vir veral ouer mense en persone wat verswakte longe het, en sulk mense moet so spoedig moontlik in hospital opgeneem word waar kundiges presies weet wat gedoen moet word.

In die VSA is die tweed sterfgeval aangemeld, en die aantal infeksies het glo met 50% toegeneem binne 24 uur, wat ’n aanduiding is van hoe maklik die virus oorgedra word van persoon tot persoon.

Baie lande het begin met veldtogte om mense af te raai om te reis in openbare vervoer, of besoeke te bring waar ’n groot samedromming van mense is soos winkelsentrums, teaters en sportbyeenkomste.

Die Wêreld Gesondheid Organisasie het intussen met ’n wêreldwye veldtog begin om mense bewus te maak van die koronavirus, en wetenskaplikes sê die groot gevaar is in onderontwikkelde lande wat nie oor die infrastruktuur en kennis beskik om verspreiding te bekamp nie.

Intussen word aandelemarkte skerp geraak deur die vinnige verspreiding, en het die markte in Wall Street reeds die krisis vlak van 2008 bereik, wat ’n sterk aanduiding is van wat wêreldwyd te wagte kan wees.