Iran laat duisende vry uit tronke

Die regering van Iran het 85,000 mense uit tronke vrygelaat, ingesluit sekere politieke gevangenes in ’n poging om die land se koronavirus epidemie die hoof te bied.

Die owerheid sê egter die mense word net tydelik vrygelaat om ’n verspreiding van die virus in die tronke te probeer verminder, en ’n juridiese woordvoerder het daarop gewys dat Iran reeds 16,500 gevalle van infeksie het, en dat meer as 1,000 al dood is daaraan.

Iran is naas Sjina en Italië die land wat die swaarste gebuk gaan onder die krisis, veral in die lig van die swaar ekonomiese sanksies wat veroorsaak dat hy baie min olie verkoop, en dit terwyl die olieprys met sowat 55% gedaal het in die afgelope maande.

Kenners wys daarop dat Iran nie daarin sal slaag om die mense wat vrygelaat is uit tronke, weer op te spoor na die krisis verby is nie.

Die eerste 70,000 mense is reeds vrygelaat, en die tweede groep, wat sowat 15,000 is, word binne enkele dae vrygelaat.

 Dit is egter nie duidelik gemaak oor wanneer die mense moet terugkeer na die tronke nie, en ingeligte bronne reken dat die mense nie weer vrywillig na die tronk sal terugkeer nie.