Indië inperking raak miljoene inwoners

Die hele Indië se bevolking van 1,3 miljard mense word direk geraak deur die inperking wat landswyd ingestel is deur die regering.

Die regering  van Eerste Minister Narendra Modi het die drastiese stap geneem in opvolging van Brittanje wat ook ’n nasionale inperking aangekondig het.

Net soos elke ander land, het Indië slegs kruidenierswinkels en mediese punte soos apteke vrygestel van afsluiting, maar die impak van die besluit het ’n geweldige invloed op die miljoene mense van die land.

Met die ter perse gaan van die berig was daar reeds meer as 30 lande wat ’n nasionale inperking aangekondig het, en word miljarde mense daardeur geraak in ’n poging om die snelle verspreiding van die koronavirus te probeer stuit.

In Duitsland waar die inperking nog nie ingestel is nie, bestaan ’n maatreël dat mense nie nader as 2 meter van mekaar mag wees nie, met die hoop dat dit die verspreiding sal stuit.