Herdenkingsfees: Majuba 2020

Die naweek van 28 Februarie tot 1 Maart was daar oudergewoonte weer Majuba fees gehou. Hierdie fees vind elke jaar op die naweek die naaste naweek aan Majubadag (27 Februarie) plaas by Majubaberg, sowat 15km vanaf Volksrust.

Alhoewel die fees eers amptelik op die Vrydag afskop, was daar teen Donderdag al heelwat woonwaens, tente en boswaetjies op die terrein teenwoordig. Donderdag was, was ’n heerlike sonskyndag, maar die weer het ander planne gehad vir die fees.

Die afskop van die program het op Vrydagmiddag om 18:00 plaasgevind. Gewoonlik vind hierdie deel van die program by die monument koppie plaas, maar a.g.v. ’n misreëntjie wat sedert die oggend uitgesak het, gepaardgaande met ’n koel Suidwestewind, is die geleentheid na die Van Blerk saal geskuif. Hier het verskeie volksorganisasies en skole ’n kranslegging gehou ter ere van die gesneuweldes in die Slag van Majuba. Daarna is daar ook ’n filmvertoning aangebied in die saal om die feesgangers ’n blik te gee op die gebeure wat tydens die slag van Majuba afgespeel het. 

Met die ongunstige weer was die saal ’n byenes van bedrywighede. Die meeste stalletjies het noodgedwonge ’n plekkie in die saal gekry. Die kinders se gebruiklike fakkelloop die berg uit, moes ongelukkig afgestel word. 

Die weer het ook verskeie uitdagings aan die organiseerders gebied. Hierdie jaar het CVO Pretoria as die gasheer organisasie opgetree. Tesame met die Majuba Boerevolk Trust, was die pad na die terrein beman, wat op hierdie stadium in ’n modder rivier ontaard het. Voertuie wat nie die bult kon baasraak nie, is met behulp van hierdie span gehelp om die terrein te bereik. In die koue en nat toestande het hierdie span tot kort voor middernag feesgangers bygestaan om op ’n plekkie te kom om saam te feesvier. Ek is seker dat ’n menigte van hierdie manne ’n Racheltjie de Beer oomblik beleef het in die weerstoestande.

 Saterdagoggend het aangebreek met digte mis en reën wat steeds van tyd tot tyd geval het. Die organiseerders moes weereens bontstaan en planne te beraam om die fees te laat voortgaan. ’n Besluit is geneem om die opening, wat gepaardgaan met ’n Skriflesing, ’n feesspreker en vlagtentoonstelling met ’n uur uit te stel met die hoop dat die weer sal opklaar soos belowe deur die weerprofete. Ongelukkig is die weerprofete van dieselfde stoffasie as meeste politici. Jy kan nie ’n woord glo wat hulle uiter nie. 

Hierdie geleentheid is weereens saal toe geskuif, want van hoek tot kant gesit het. ’n Treffende oomblik vir menige feesganger was toe “Ken gij dat volk” uit volle bors gesing is tydens die vlaghysing. Daarna het die Bittereinderkommando, in volle tradsionele drag, ’n puik vlagtentoonstelling aangebied. Ongelukkig moes hulle die perde buite los terwyl hulle met elke vlag deur die saal gestap het. 

Na die verrigtinge in die saal, het die weer uiteindelik saamgespeel. Die Bittereinders het met die volksvlae te perd die terrein deurkruis. Agter hulle is ’n ossewa gesleep deur ’n rooispan Afrikaners, wat ons ’n blik kon gee op die vervoermiddels wat ons voorsate gebruik het om hierdie eens woeste land te tem. 

Een van die groot trekpleisters is die skyngeveg tussen Boer en Rooibaadjie wat die slag van Majuba uitbeeld. Die arme Rooibaadjies moes weereens op hulle neuse kyk. Groot dank moet dan ook aan die Dundee Diehards gaan, wat elke jaar bereid is om te kom sneuwel by Majuba. 

Hierna het ’n regte swartkruit kanon deur die klowe weergalm. Vir die meeste mense was dit asemrowend. Sommige voertuie was egter nie so beïndruk deur die kanonskote nie en hulle alarms het luid beswaar gemaak teen hierdie wapen uit vergange se dae. 

Die organiseerders het hierdie jaar die bergbestyging afgestel weens veiligheidsredes. Hier en daar was daar wel dappere feesgangers wat die berg bestyg het ten spyte van ’n nat paadjie en ’n miswolk wat steeds die berg bedek het. 

Saterdagaand het feesgangers ook die geleentheid gehad om die gebruiklike Cantus mee te maak. So bietjie kultuur uit ons Europese herkoms sorg vir lekker saam sing en saam kuier aan die voet van die berg. 

Die fees is Sondag gebruiklik op gepaste wyse met ’n erediens in die saal afgesluit. 

Ondanks die ongure weer, was die gees van die feesgangers nie gedemp nie. Almal het met Boeregasvryheid sy buurman uit die modder gehelp waar nodig. Kinders het uitbundig in die modder baljaar, wat sommige moeders se bloeddruk so-effe laat styg het. Die swepe het geklap, soos wat nou al Majuba tradisie is. Volksgenote het gekuier en geskerts, gebraai en ’n kommetjie koffie saam geniet. Almal was dankbaar dat hulle weereens ’n geleentheid gebied is om gesellig saam met mede volksgenote te verkeer. 

Maak sommer nou al ’n aantekening in jou dagboek om volgende jaar se fees aan die einde van Februarie saam te kom meemaak. Sonskyn of reën, sneeu of hael, ons Boere hou Majuba fees!