Duisende Kataloniërs eis vryheid

’n Strewe na onafhanklikheid het die afgelope naweek weer die kalklig gesteel toe sowat 150,000 separatiste van die Spaanse deelstaat Katalonië saamgetrek het op die grens met Spanje..

Plakkate met opskrifte van “Carles Puigdemont as President” en baniere met vryheid slagspreuke tesame met duisende vlae het getoon hoe ernstig die strewe na onafhanklikheid is.

Die ondersteuning aan die voormalige minister-president van Katalonië, Carles Puigdemont, word beskou as nog ’n ernstige dilemma vir die Spaanse regering wat tot hede geweier het om met die separatiste te onderhandel.

Katalonië is die mees welvarende deel van Spanje, en Carles Puigdemont het drie jaar gelede die streek onafhanklik verklaar in die deelstaat se parlement, maar moes daarna uitwyk na België om vervolging deur die Spaanse owerheid te ontduik.

Intussen is Puigdemont verkies tot die Europese Parlement, en wil vandaar die vryheidstrewe van sy mense voortsit met die hoop om uiteindelik ’n onafhanklike Katalonië te vestig.

Katalonië se 7,5 miljoen inwoners het in ’n referendum ’n meerderheid stem uitgebring ten gunste van afskeiding van Spanje, maar kort na die aankondiging het die Spaanse regering toegeslaan op die separatiste leiers waarvan verskeie tans tronkstraf uitdien.