Die Wêreld kom tot stilstand

Vir die eerste keen in baie dekades het die wêreld bykans geheel en al tot stilstand gekom, en het paniek oor die mensdom gespoel asof die einde van die bestaan aangebreek het.

Mense koop in grootmaat kos, toiletpapier, ontsmettingsmiddels en ander noodsaaklike lewensmiddele om winkels en ander mense te vermy uit vrees vir oordrag van die koronavirus.

Die anders besige strate van die wêreld se groot stede het stil geword, winkels, restourante, wegneem eetplekke, teaters, kerke is stil en al wat sportgeleentheid is, word gekanselleer uit vrees vir die koronavirus.

Met lande wat grense sluit, lugrederye wat vlugte staak, mense wat lughawens vermy, word die wêreld ’n plek wat die indruk wek van rustigheid terwyl vrees en paniek vlak in die gemoed van miljoene mense lê.

Waar en wanneer dit alles gaan eindig, sal die tyd leer terwyl wetenskaplikes en navorsers koorsagtig besig is met toetse om ’n effektiewe geneesmiddel te vind wat die gevaar van infeksie kan stuit.

Intussen is daar ’n paar maatreëls wat elke persoon behoort toe te pas wat die moontlikheid van infeksie sal verminder.

Was hande voor en na maaltye, selfs voor en nadat koffie of tee geniet is, en moet nie met jou hande aan die gesig vat as hulle nie vooraf deeglik gewas is nie.

Vermy groter getalle mense wat bymekaar is, en hou afstand met ander mense tot minstens twee tree weg.

Die mooi gewoonte om met die hand te groet, moet eers agterweë gelaat word, en die gebruiklike soengroet is taboe vir nou.

’n Griep inspuiting kan nou help om die “gewone griep” af te weer, want as dit saam met koronavirus infeksie op jou pad kom, kan dit veral vir ouer mense ’n uiters gevaarlike situasie word.

Ontsmetting kan toegepas word deur ’n klein hoeveelheid “Jik” bleikmiddel in die water te gooi as ander ontsmettingsmiddels nie bekombaar is nie.

Die wagwoord in elke huishouding moet wees: Uitermatige goeie higiëne.