Wynbedryf in die Wes-Kus in warboel

Een van die grootste inkomste genererende bedrywe in die Wes-Kus gebied is tans in ‘n krisis. Een van die grootste wynkelders in die streek se topbestuur is op verpligte verlof geplaas deur die direksie, hangende ʼn ondersoek wat gedoen moet word. 

Sprake van buitensporige salarisse en byvoordele vir die bestuur is van die sake wat ondersoek moet word. 

Saam met die topbestuur is een van die senior wynmakers ook op verlof geplaas.  Boere wag nog op hul agterskot van verlede jaar wat deur ʼn ander wynkelder betaal moes word.  By die kelder het die senior wynmaker en sy assistent bedank en sit die kelder tans sonder hul jarelange wynmaker.  Boere gaan nou so ver as om hul oeste te lewer aan kelders in die Paarl en Robertson.  Die wynbedryf het die afgelope twee jaar swaar gebuk gegaan onder droogte toestande,  maar 2020 beloof om ʼn goeie opbrengs te lewer.

Sakelui in die omgewing is bekommerd oor die situasie aangesien die druiwe- en wyn bedryf een van die grootste werkverskaffers is en ook die grootste inkomste genereer in die omgewing.