Wêreld vervoerdienste in krisis

Duisende passasiers wat normaalweg gebruik maak van spoor, lug en padvervoer in openbare dienste, sit gestrand omdat personeel weier om onder die riskante situasie te werk.

Die passasiers in twee super luukse plesiervaartuie wat tans in die waters van Asië is,  moes onder kwarantyn geplaas word weens die hoë risiko van infeksie met die korona virus.

Intussen sal honderde deskundiges van regoor die wêreld saamkom in Genève, Switserland, op 11 en 12 Februarie in ’n poging om ’n weg te vind om die situasie om te keer.

Alhoewel ’n teenmiddel binne weke ontwikkel is, wat normaalweg jare neem, is dit nog geen goeie nuus nie, want maande lange toetse wag om afgehandel te word alvorens dit as ’n veilige en doeltreffende middel op die mark kan kom.

Ontleders wys daarop dat die groot aantal nuwe infeksies ook die sterftes verhoog, en sê dat daar gemiddeld 60 tot 65 mense daagliks omkom omdat hulle nie betyds by hospitale kan kom nie.

Motorvervaardigers is in twyfel of fabrieke tydelik gesluit moet word, terwyl lugvaart personeel weier om vlugte te onderneem met potensieel besmette passasiers aan boord.

Sjina het reeds ’n finansiële terugslag van $700 miljard weens die sluiting van openbare vervoerstelsels, fabrieke an baie sakeondernemings wat vrees dat hulle personeel slagoffers kan word.