Virus paniek

Die moontlikheid dat enige land ter wêreld gaan ontkom aan voorvalle van koronavirus, is so skraal soos die beskikbaarheid van sneeu in die Namib.

Die verspreiding sal geleidelik uitbrei na Afrika lande wat nie so dikwels besoekers uit swaar besmette land ontvang nie, en na mate die besmettings aangemeld word, styg die moontlikheid van meer gevalle soos wat reeds in talle lande ondervind is.

Dat Suid-Afrika gereed is om enige geval wat mag land, word nie betwis nie, maar dat geen persoon met infeksie ongemerk die land kan binnekom nie, is ’n mite aangesien mense tot 14 dae ’n onopspoorbare infeksie kan dra, en intussen menige ander kan besmet.

Die tweede mite wat rond gestrooi word, is dat die koronavirus binne een maand homself sal uitwoed en dan afplat tot ’n onbenullige aantal gevalle.

Sodra die eerste paar gevalle bekend geword het in ’n land, is die koeël deur die kerk, want dan is daar geen beheer oor wie met wie in aanraking was nie. Die afgelope weke het aangetoon dat die mees beskaafde lande ook raadop is oor hoe die krisis hanteer kan word en watter maatreëls getref kan word om verspreiding te voorkom, of minstens te verminder tot beheerbare vlakke.

Die VSA het miljarde dollar bewillig vir die bekamping van verspreiding en selfs meer as een miljard dollar beskikbaar gestel vir navorsing om ’n teenmiddel te ontwikkel, wat waarskynlik die beste metode van bestryding sal wees.

Dit kan egter lank duur voor so ’n middel wêreldwyd beskikbaar gestel sal word om alle mense te beveilig teen infeksie, maar intussen behoort elke leser seker te maak dat basiese veiligheidsmaatreëls soos deur die huisdokter voorgeskryf word, streng nagekom word – selfs al is hier nog geen geval in die land aangemeld nie..

Dit is nie of so ’n epidemie die wereld gaan tref nie, maar wel wanneer dit gaan gebeur, en daarom moet lesers bewus raak van wat gedoen moet word om hulleself te beveilig.