Uit my Kuierkombuis

Deesdae probeer ons allerhande kragbesparende kortpaaie en kombuistoebehore val ook in hierdie kategorie!   Indien u ‘n elektriese driehoek  toebroodjie rooster (snackwitch),  het,  kan u hom nader trek vir vandag se resep.

Wortelkoek Driehoekies

Bestanddele:

125ml fyn gerasperde wortels

60ml  olie

1 ekstragroot eier

125ml suiker

2,5ml kaneel 

2ml koeksoda

Knippie sout

125ml bruismeel

60ml hawermout

20 ml gekapte pekanneute (opsioneel) 

Metode:

  1.  Klits die olie, eier en gerasperde wortel saam en voeg die suker, kaneel, koeksoda, bruismeel, knippie sout en hawermout saam  en meng goed.
  2. Voeg heel laaste die gekapte neute by en vou liggies in die beslag.
  3. Voorverhit die driehoekietoebroodjie rooster en bespuit met kleefwerende middel.  
  4. Skep van die beslag in die onderste 4 driehoekholtes (nie te vol nie) en bak vir 5 – 7 minute. 
  5. Kyk na so 5 minute of hy gaar is mbv ‘n toetspennetjie.

Maak ‘n versierseltjie aan van

25 ml growwe bruinsuiker

25 ml botter (verhit in mikrogolf)

5ml karamelgeursel

Voeg daarby 250ml gesifde versiersuiker en roer deur tot krummelrig en maak nou die versiersel versigtig aan deur eers 15ml kookwater by te voeg en met ‘n draadklopper te roer en dan teelepelgewys nog bietjie kookwater ………….. wees versigtig dat die versiering nie te loperig is nie.  Roer goed deur met ‘n draadklopper en skep van die versiersel  oor die gaar driehoekie wortelkoekies.

Wenk: Gooi gekapte pekanneute oor die driehoekie wortelkoekies sodra u die versiersel oor gegooi het en rond af met ‘n rooi of groen glanskersie!