Uit my Kuierkombuis

Melktert is altyd ‘n wenner vir enige geleentheid.   Oor die jare het die oorspronklike skilferkors, gebakte melktert plek gemaak vir ‘n verskeidenheid “verbuigings” van die tradisionele lekkerny!  

Dit bring my by hierdie week se resep waar ons ‘n melktertkoek gaan bak!

Melktertkoek

Bestanddele:

4 ekstragroot eiers geskei,  (by kamertemperatuur)

15ml water

125ml + 2 e suiker

125 g botter,  gesmelt

Knippie sout

200 ml koekmeelblom

500 ml louwarm melk

10 ml vanieljegeursel

  1.  Voorverhit die oond tot 170º C en smeer of bespuit ‘n ronde koekpan van 20cm in deursnee.  Voer die bodem uit met bakpapier. (nie gewone waspapier nie!)
  2. Klits die eiergele,  suiker, knippie sout, water en vanieljegeursel tot lig en romering.
  3. Voeg nou die gesmelte botter by en klits vir ‘n verdere minuut.
  4. Voeg nou die koekmeelblom daarby en meng liggies deur.
  5. Vervolgens word die louwarm melk bygevoeg waarna u die mengsel klits tot goed deurgemeng.
  6. Klits intussen die eierwitte tot styf,  maar nie droog nie en vou dit liggies in die beslag.
  7. Skep die beslag in die voorbereide koekpan en bak in die voorverhitte oond van 160º C vir ongeveer 60 minute en tot goudbruin.
  8. NB….. Laat die koek heeltemal afkoel in die pan vir ten minste 3 ure waarna u dit versigtig uitkeer en oorplaas op ‘n opdien bord.
  9. Sif versiersuiker oor,  rond af met ‘n kruisementblaartjie of twee en ‘n rooi glanskersie ……….. en bedien saam met ‘n koppie heerlike varsgebroude koffie.