Uit my Kuierkombuis

Verlede week het ons ‘n roerbraai gereg gemaak wat ‘n heerlike vullende maaltyd is. Hierdie week maak ons  nog ‘n ligte maaltyd wat ewe vinnig gemaak kan word. Terwyl daar nog veselperskes beskikbaar is,  kan dit by die resep gevoeg word.  U kan egter sonder veselperske ook die slaai maak.   U kan ook ander soorte slaaigroente byvoeg waarvan u hou,  bv rooi uieringe,  ertjies ens.  Pas die slaai aan vir jou behoefte.  Die gerookte hoenderborsies gee dit egter ‘n baie lekker geur sowel as die balsamiesesous wat by die slaaibestanddele gevoeg word.

Gerookte hoenderslaai

Slaaisous:

200 ml balsemiekasyn

200 g witsuiker

Verhit oor lae hitte en bring tot kookpunt.

Verwyder van hitte en laat heeltemal afkoel.  Hou eenkant.

Bestanddele:

twee tot 3 gerookte hoenderborsies in skyfies gesny

halwe pakkie ontbytspeksnippers bros gebraai

2-3 middelslag agurkies in ringetjies gesny

250ml komkommerblokkies

250ml vars mangoskyfies

125ml pynappelstukkies

125ml grof gerasperde wortel

10 deurgesnyde kersietamaties

2 – 3 blaarslaaiblare, grof gesny

Garnering – fetablokkies, pietersielieblare

Varsgemaalde peper en sout na smaak

Metode:

  1.  Maak eerstens die balsemiekslaai sous sodat dit solank kan afkoel voordat dit oor die slaai geskep word.
  2. Die hoeveelheid gerookte hoenderborsies hang af van die hoeveelheid mense wat daarvan gaan eet.
  3. Braai solank die ontbytspeksnippers tot bros, dreineer op kombuispapier en hou eenkant om af  te koel.
  4. Sny die gerookte hoenderborsies, agurkies en veselperske in skyfies.
  5. Rasper die wortel met die growwe kant van die rasper en sny die komkommer in klein blokkies.
  6. Die kersietamaties kan in die helfte of in kwarte gensy word en die blaarslaai kan in growwe stukkies gebreek word. 
  7. Meng nou al die slaaibestanddele saam,  geur met grofgemaalde sout en peper na smaak en skep die voorbereide en afgekoelde soetsuur slaaisous oor die slaai.
  8. Garneer dit met vars pietersielieblare en blokkies fetakaas.
  9. Bedien dit saam met ‘n heerlike snytjie saadbrood of growwe saad broodrolletjie.  Heerlik!