TLU SA teleurgesteld in die Sirkus-rede 2020

TLU SA is uiters teleurgesteld in gisteraand se verrigtinge in die Parlement tydens President Cyril Ramaphosa se poging om sy Staatsrede, of eerder Sirkusrede (Circus of the Nation – CONA), vir 2020 te lewer.
Die Speaker van die Parlement, Thandi Modise se onvermoë om orde te skep en selfs die verrigtinge aan die gang te kry, is ‘n spieëlbeeld van hoe Suid-Afrika op die oomblik bestuur word.  
“Dit is werklik pateties en skandalig dat die land se gekose leiers so ‘n sirkus kan toelaat tydens een van die belangrikste gebeurtenisse van die jaar, terwyl die wêreld se oë op ons gerig is,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Suid-Afrika struikel reeds onder soveel probleme wat dringend aandag verg. Dit is baie duidelik dat die welstand van Suid-Afrikaners baie laag op die prioriteitslys van die ANC en EFF is. Daar is geen selfrespek, geen selfdissipline en net die eie ‘ons’ maak saak.
“Ons doen ‘n ernstige beroep op die President, Speaker en elke parlementslid om te besin oor wat hierdie sirkus vir die toekoms van Suid-Afrika gaan beteken,” sê mnr. Meintjes.