TLU SA hoopvol oor klein afname in plaasaanvalle

TLU SA hoop dat die afname in plaasaanvalle en -moorde gedurende Januarie 2020, in vergelyking met die statistiek van ‘n jaar gelede, vir die res van die jaar sal voortduur. 
Volgens TLU SA se amptelike Insidente Register wat sedert 1990 bygehou word, was daar in Januarie 20 geregistreerde aanvalle en geen moorde nie. In Januarie 2019 is 35 plaasaanvalle en 6 plaasmoorde gedurende die eerste maand van die jaar aangeteken. 
Wanneer die geregistreerde insidente (aanvalle en moorde) slegs vir Januarie sedert 2015 vergelyk word, lyk die prentjie as volg:

2015 : 23 plaasaanvalle en 8 moorde;

2016 : 30 plaasaanvalle en 9 moorde;

2017 : 26 plaasaanvalle en 4 moorde;

2018 : 39 plaasaanvalle en 5 moorde;

2019 : 35 plaasaanvalle en 6 moorde;

2020 : 20 plaasaanvalle en geen moorde.  
“Gebaseer op hierdie register, word dit vertrou dat die effens gunstiger situasie vir die res van die jaar sal voortduur,” sê Genl.-Maj. Chris van Zyl, die adjunk-hoofbestuurder van TLU SA. “Die positiewe neiging kan na alle waarskynlikheid toegeskryf word aan ‘n groter sekerheids- en veiligheidsbewustheid onder plaas- en hoewebewoners asook flinke reaksie deur bure en plaaswagte. Nogtans is die volgehoue tendens van bykans een aanval per dag – waarvan ons bewus is – steeds onaanvaarbaar hoog.” 
Wanneer die totale insidente van 2019 met dié van 2018 vergelyk word, is TLU SA ook bekommerd dat plaasaanvalle en -moorde eerder toegeneem as afgeneem het. 
“Die data van 2019 in vergelyking met 2018 toon steeds stygings ten opsigte van beide die getal geregistreerde aanvalle – 419 teenoor 394 – sowel as die getal moorde – 56 teenoor 54, “sê Genl.-Maj. Van Zyl. “In die lig hiervan doen TLU SA steeds ‘n beroep op die regering om meer aandag te skenk aan die voorkoms van aanvalle, asook ander misdade op plase.” 
TLU SA beveel aan dat gesprekke met die Nasionale Kommissaris van die Polisie fokus op die volgende sake:
–           ‘n Landbou vriendelike reserviste stelsel;
–           Die plaaslike integrasie van beskikbare bronne;
–           Die herbevestiging van plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdaad;
–           Dat Landbou veiligheid wat winsgewendheid en volhoubaarheid beïnvloed, in plaas van slegs plaasaanvalle, voortaan Nasionale Prioriteit status sal geniet.
 
Verder moet die landbougemeenskap fokus op die benutting van tegnologie, kommunikasie en inligting; en die opstel en implementering van gebeurlikheidsplanne soos wat TLU SA reeds doen.