Remme vas oor Eskom reddingsplan

Die reddingsplan van die vakbonde wat bereid was om staatspensioene af te staan en R26 miljard in die bankrot entiteit te belê, is van die baan.

Cosatu het waarskynlik tot besinning gekom en die remme vasgemaak oor vergaderings wat in die verband gehou sou word.

Dit is nie duidelik of die vakbond nuwe inligting bekom het, en of die media berigte, asook die gevaarlike plan soos deur verskeie ekonome uitgewys, die rede is waarom daar nou teruggedeins word nie.

Die optrede van Cosatu sal die ANC se president, Cyril Ramaphosa ook raak wat ’n aankondiging in die verband sou wou maak tydens sy staatsrede Donderdag in die parlement.

Finansiële deskundiges sê die plan om pensioengeld te waag in ’n bankrot entiteit, is een van die mees riskante planne wat Cosatu nog geopper het, maar danksy die kommentaar van ander, het die vakbond sekerlik besef dat dit ook sy einde kan beteken as so ’n waaghalsige belegging misluk.