Perspektief: SONA-drome

Die jaarlikse spog-fees is geskeduleer vir vannaand.

Benewens die verspilling van miljoene en die optog van pronkende narre, spreek die jaarlikse SONA van die kern van staats-verval en eiegeregtige arrogansie deur die rowerbende aan stuur van SA se sake.

In beginsel is die regering van enige land verantwoordbaar vir die uitvoer van billike, verantwoordelike en effektiewe regering – dienslewering aan belastingbetalers.

Meer spesifiek is die regering finaal verantwoordbaar aan die regerings-beginsels bepaal deur die Woord van God.

Maar in sy beheptheid met homself het die post-moderne mens regering ver-kanker tot n  voertuig van vergryp.

SONA word dus weinig anders as self-verheffende verontskuldiging deur die politieke (mis)leiers van die land, en hul medewerkers in die opposisie-banke!

Verontskuldiging en hernieude leuens!

Dat groot dele van die bevolking wel meen sodanige geleentheid hou enigsins waarde in, spreek ook boekdele …

Te midde van spekulasie oor die inhoud van vannaand se toespraak, moet die volgende duidelik gestel word:

In 25 jaar het die ANC-regering slegs verwoesting gesaai, die staatskas geplunder en ʼn tasbare nalatenskap van haat, onrus en rewolusie geskep.

Anders as die liberale mistasting, was hierdie inderdaad die sukses-mikpunt waarmee Nelson Mandela sy reënboog-nagmerrie geloods het!

En in Cyril Ramaphosa se presidentskap word die kroon gespan deur die argitek van die nuwe SA:

wat vandag as “drastiese maatreëls” voorgehou word het inderdaad noodsaaklik geword, maar slegs omdat die ANC die afgelope 25 jaar planmatig gewerk het aan die vernoetiging van enige redelike alternatief!

Dit is daarom tyd dat SA se mense, in sy volke, eis dat politiekery beëindig word!

Dit is tyd om aan te dring op verantwoordbaarheid, nie spog-feeste nie!

Daarom moet ons die regte vrae vra, en aandring op reguit antwoorde: eenvoudige “JA”, of dan eerlike “NEE”.

Is die ANC bereid om sonder verdere voete sleep die regte besluite te neem ten opsigte van mislukte rasse-beleidsrigtings? 

Is die parlementêre kabaal bereid om hul buitensporige vergoeding, toelaes en voordele te besnoei tot redelike vlakke, weerspieëlend van ekonomiese werklikhede?  En om plaaslike dienslewering los te maak van politiekery?

Is die ANC bereid om sonder versuim ontslae te raak van elke onproduktiewe werker (staatsdiens en in staatsondernemings) en alle salarisse tot realistiese vlakke te beperk?

Is die ANC bereid om die getransformeerde regbank te ontbind en te vervang met ʼn professionele en onafhanklike regbank?

Is die ANC bereid om belastings op te skort vir die 2-3 jaar se geld deur die ANC, Chancellor House, opposisie politici en hul privaat sektor meelopers gesteel?

Ook om die verdere 2-3 jaar se diensteskulde in te vorder?

Is die regerende- en ander partye bereid om die staatkundige struktuur van SA onvoorwaardelik te herstel na die volksgrense van weleer?

Belangriker:

Is die (sogenaamde) opposisie partye bereid om die ANC tot verantwoording te roep?

Is diegene wat beweer om Christelik te wees, bereid om die vergrype, die sinkretisme en laster te verwerp en uitdruklik daarmee te breek?

Maar ook ons:

Is ons bereid om vannaand in nederige gebed te erken waar óns al te maklik versuim om vurig te bid vir die herstel van ons land?

Nie noodwendig herstel volgens óns voorkeure nie, maar realistiese herstel deur die inkeer van die bose magte tans in beheer?

Is ons bereid om saam te staan – nie op grond van sosialistiese ideale en humanistiese dwaling nie, maar as Christelik-nasionale volkstaat, met eie regering, máár ook met eie arbeid en eie onderlinge sorg?

En nadat ons, ons eie skuld aan die “nuwe SA” reggestel het, is ons bereid om te wérk vir vryheid?