Ope brief aan die Staatspresident

Uitgereik deur die Sentrale Kerkekommissie van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Geagte Meneer die Staatspresident,

U het Christene by meer as een geleentheid opgeroep om as morele kompas vir die land te dien en die kerk versoek om vir u en die regering te bid. As lidmate van die Afrikaanse Protestantse Kerk doen ons dit gereeld in opdrag van God. Alle gesag behoort aan Hom: Hý sit konings af en stel hulle aan (Dan. 2:21). Aan regeerders verleen Hy die gesag om as ’t ware namens Hom só te regeer dat mense … ’n rustige en stil lewe kan lei, in alle godsvrug en waardigheid (1 Tim. 2:2). Ook u gesag as staats- en regeringshoof is verleende gesag – dit is aan u verleen deur die ewige Koning, Jesus Christus.

As getuies van die Here mag ons nooit anders sê nie as: “So spreek die Here.” In nederigheid word hierdie skrywe aan u gerig in ’n beskeie poging om iets te laat hoor van die kommer in die hart dat die eer van God en die heil van die mense oor wie u regeer, deur u regering aangetas word.

Met ootmoed en erns bid ons vir u aan die hand van die volmaakte gebed, die Onse Vader. Die eerste drie bedes van die Onse Vader is die onontbeerlike fondament vir ’n rustige en stil lewe in godsvrug en waarheid. Laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied … (Mt. 6:9-10), is die smeekbede dat daar, uit respek en eerbied vir God, erns gemaak sal word met sy Naam; sy gesag en sy wil.

Die drie bedes eggo die eerste vier gebooie van die Here. Dit bly vir ons onbegryplik dat ’n staat waarvan meer as sewentig persent van die inwoners te kenne gee dat hulle Christene is, bereid is om dié drie bedes gering te skat deur met ’n neutrale grondwet tevrede te wees. U regering is egter nie bloot neutraal nie. U handhaaf nie slegs die beginsel van godsdiensvryheid nie, maar bevorder en propageer godsdiensgelykheid. U spot met die enigste God – en geen erger ydel gebruik van sy Naam is denkbaar nie.

Daarmee kom die grondliggende en ware swakheid van u regering en sy optredes aan die lig. U moet onthou: U en die regering is nie eerstens aan ’n party, ’n parlement of aan kiesers verantwoording verskuldig nie. U is heel eerste aan God verantwoordbaar. As daar nie eerbied en ontsag vir Hom is nie, sal daar ook nie respek vir sy gesag of wil wees nie.

Johannes Calvyn het geskrywe: “Die koning wat in sy ryk nie só regeer dat hy die heerlikheid van God dien nie, beoefen nie regering nie, maar pleeg roof.” Kom die plundering van die land onder die regerings van die afgelope 25 jaar nie neer op die berowing van God se eer nie?

Die Here Jesus leer ons verder bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe (Mt. 6:11). Dit is ’n bede om ’n lewe waarin daar vir elkeen ruimte tot bestaan en roepingsvervulling is. In die gehoorsaamheid aan God se wet, is dit vir elkeen moontlik om ’n plek te hê waar hy sy roeping kan nakom; homself en dié wat aan sy sorg toevertrou is kan beskerm en versorg; die eiendom wat hy uit die hand van God ontvang in vrede kan benut en sy eer en goeie naam kan behou. Waar daar só gelewe word, is daar ruimte vir deernis met mekaar en erkenning dat ons almal uit God se hand en in sy genade leef.

Dié gehoorsaamheid begin by respek vir God en vir die mense met wie ons saamleef. Dit word uitgedruk in gehoorsaamheid aan die gesag van hulle wat God oor ons gestel het. Daaruit volg respek vir die reëls waarvolgens en die grense waarbinne ons met mekaar saam lewe.

Laat ons nie doekies omdraai nie, Meneer die President. Die misdaadgolf in hierdie land is nie die gevolg van broodsgebrek en ekonomiese nood nie. Dit is die gevolg van ’n diepliggende gebrek aan respek vir God, vir sy Woord, vir wet en orde en vir die mense met wie saam geleef moet word. Met diep kommer moet gestel word dat u regering aktief hiertoe bydra. U regering ondermyn ouerlike gesag en daardeur respek vir alle gesag, met wetgewing wat lyfstraf as wyse waarop ouerlike tug en opvoeding tuisgebring mag word, kriminaliseer. U regering laat toe dat duisende ongebore kinders elke jaar deur aborsie vermoor word, maar moordenaars mag nie die doodstraf kry nie. U regering ondermyn die waarde en waardigheid van lewe en spoor doodslag aan deur nie diegene wat dood en geweld aanblaas, te straf nie. U inkonsekwentheid ten opsigte van haatspraak, u onwilligheid om plaasmoorde en misdaad aan te spreek, tesame met ’n korrupte polisiemag, hits dié disrespek aan.

U regering vernietig respek vir die heiligheid en die waarde van die huwelik as hoeksteen van ’n gesonde gemeenskapslewe deur selfdegeslag-huwelike te wettig, pornografie toe te laat en seksuele uitspattigheid deur middel van die nuwe voorgestelde leerplan vir lewens­oriëntering (sg. “CSE”) te legitimeer en te bevorder. Korrupsie, wat steeds onder u regering voortwoed, ken geen respek vir eiendom, geld of goed nie. Onder u regering word erfgrond soos ’n Nabotswingerd beskou – as die koning dit wil gryp, doen hy dit. U regering ondermyn respek vir die waarheid deur die valse beskuldigings waarmee die witmense in die land gedemoniseer word. U eie verwronge weergawe van die gebeure by Bloedrivier getuig daarvan. Daarby ondermyn u regering die respek vir die reg deur dikwels met vooroordeel te handel en te vonnis.

Gebrek aan respek vir God, vir ander en vir wet en orde, vernietig selfrespek. Dit laat selfsug en soeke na eiebelang in mense botvier. Die Here leer ons om te bid dat ons bestaan nie daardeur vernietig sal word nie: … en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose (Mt. 6:13). Die laaste van die Tien Gebooie dring ons om ons eie begeertes ondergeskik aan God se wil en beskikking te stel.

Die grondslag van u regering berus op die uitgangspunt van die regte van mense en nie op die reg van God nie. In homself dra die veel geroemde grondwet die kiem van ondergang. Dit spreek immers van die heel vroegste verleiding: Dat ’n mens nie aan God gehoorsaam hoef te wees nie, maar self jou eie godjie kan word. In hierdie valsheid word ’n land prysgegee aan die Bose; word ’n staat die gestalte van die antichris.

Wie van die pad van God afwyk, loop onvermydelik die pad van God se oordeel. Dit is op dié pad waarop u regering ons lei. Daarom doen ons op u en u regering ’n dringende beroep: Moenie net vra dat vir u gebid word nie, maar wys deur u dade dat u God en sy wil, waarvoor u vra daar gebid moet word, erken en dien.

As dit nie gebeur nie, bid ons dat God self vir ons ’n regering sal gee wat met Hom en met sy Woord erns sal maak, sodat ons ’n rustige en stil lewe in alle godsvrug en waardigheid kan lei.