Motor rubriek – Audi TT Coupé TFSI S tronic

Sedert die Audi TT se eerste verskyning op ons land se paaie was en is dit ‘n gewilde motor en kan dit as ‘n sportmotor beskou word. Deur die jare is dit verskeie kere opgegradeer en na elke opgradering het die gewildheid daarvan toegeneem. Selfs ouer weergawes is nog baie gewild en word nog oral op die land se paaie opgemerk.

Die heel nuutste weergawe beloof om ook ‘n sukses te wees. Wanneer dit van nader beskou word en daar word om die voertuig beweeg, word die onderste groot luginlate aan die voorkant van die voertuig, dadelik opgemerk en word die indruk geskep dat dit nodig is om ‘n uitsonderlik kragbron te verkoel.

Dieselfde geld vir die sierrooster met sy mat swart afwerking en dit tesame met die LED hoofligte vorm ‘n eenheid met die neusgedeelte.

Wanneer die enjinkap, waarop die bekende Audi vier ring embleem gemonteer is oopgemaak word, is die dwars gemonteer vier silinder, 1984 kub. sentimeter kragbron duidelik sigbaar. Hierdie kragbron lewer 169 kW tussen 4500 en 6200 o.p.m. en die wringkrag wat verskaf word is 370 Nm. tussen 1600 en 4300 o.p.m.

‘n Elektroniese, direkte brandstof inspuitingstelsel word gebruik tesame met ‘n turbo aanjaer en tussen koeler. Vier kleppe per silinder word oop en toe gemaak deur dubbel oorhoofse nokaste en die drukverhouding is 9,6 tot 1. Daar is m.a.w. seker gemaak dat die kragbron kan “asemhaal”. Die kragoorbrenging na die voorwiele geskied via ‘n ses spoed dubbel koppelaar ratkas en die oorskakeling geskied seepglad.

Van die kant gesien sorg vloeiende lyne van die bakwerk en die 19 duim allooi wielnawe wat met Bridgestone Potenza S001, 245/35 R19 bande geskoei is dat die motor sy werk kan doen. Die kantspieëls is dieselfde kleur as die bakwerk geverf en vorm ‘n eenheid met die luikrug bakwerk.

Padgedrag is van hoogstaande standaard en of dit op die snelweg of op sekondêre paaie gebruik word, dit is ‘n plesier om hierdie motor te bestuur.

Stap ‘n mens om na die agterkant, word die ingeboude drukvlerk dadelik opgemerk en die doel daarvan is om as hulpmiddel op te tree en te sorg die motor se padhouvermoë beter is. Die agterligte vorm ‘n eenheid met bakwerk en onder die agterligte is daar luguitlate ingebou wat hulp verleen dat die agterste 300 mm soliede skyfremme verkoel kan word. Alhoewel die kattebak se ruimte nie baie groot is nie, is dit tog bruikbaar vir dag tot gebruik en selfs wanneer die lang pad aangepak word is daar meer as genoeg ruimte vir bagasie.

Die kersie op die koek kom wanneer die bestuurder die deur aan sy kant oopmaak om in te klim! Vir gerief is die onderste gedeelte van die stuurwiel plat en kan daar met gemak ingeklim word.

Die leerbedekte sitplek van die bestuurder is elektries verstelbaar en ‘n gemaklike sitposie kan met min moeite ingeneem word. Op die leer bedekte stuurwiel is verskeie skakelaars aangebring vir die beheer van toerusting. Binne afwerking is van hoogstaande gehalte soos net Audi dit kan doen en deur die boonste gedeelte van die stuurwiel is die duidelik leesbare instrumente sigbaar en dit bestaan uit die snelheidsmeter en toereteller met talle ander instrumente wat in hierdie instrumente gemonteer is. In die middel van die instrument paneel is die beheer kontrole vir ander toerusting en die ratkies hefboom is in ‘n gerieflike plek gemonteer in die middel konsole.

Op strategiese  plekke op die instrumentpaneel is vyf luguitlate gemonteer met skakelaars vir die elektries beheerde vensters in die armrusplekke gemonteer. Vir die passasiers is die plek op die agterste sitplekke beperk maar vir kinders is daar meer as genoeg plek.

Op die voorwiele is 312 mm geventileerde skyfremme gepas en is daar ondersteuning vir die ABS remstelsel bywyse van EBD en EBA en met hierdie stelsels in plek is die remvermoë van die TT van hoogstaande gehalte.

Vir die veerstelsel word die beproefde, onafhanklike MacPherson stutte met spiraal vere en anti-rol staaf op die voorwiele gebruik en vir die agterste veerstelsel word ‘n onafhanklike multistaaf, spiraalvere en anti-rol staaf gebruik.

Hierdie is ‘n sportmotor in die ware sin van die woord en die 0 tot 100km/u versnelling neem 6,33 sekondes en die top snelheid is 250 km/u. Dit is dus ‘n motor vir die fynproewer en die ideale motor vir die sportmotor liefhebber en kan u dit gerus gaan neem vir ‘n toetsrit by u naaste Audi handelaar.