Mboweni se uitdagings van vandag

Die ANC se Minister van Finansies, Tito Mboweni, sal vandag sy begrotingsrede in die parlement lewer, en ekonome voorspel niks goed vir die inwoners van die land nie.

Na verwagting sal sy toespraak vêrreikende implikasies inhou vir die land se ekonomie en vir elke verbruiker wat geraak sal word.

Belastingbetalers, pensioenarisse, sakelui en staatsamptenare kan almal verwag dat slegte nuus op hulle wag, want Mboweni sit tussen twee reuse vure, en durf nie na een of ander kant skuif nie.

Sy groot probleem sal wees om SA te oortuig dat die regering verplig is om die bankrot klomp staande te hou, waarvan Eskom, SAL, Prasa en ander gehelp moet word, met geld wat niemand weet waarvandaan dit moet kom nie.

Selfs die delging van die staatskuld is ’n enorme probleem, en dit alles kan net op een manier bevredigend opgelos word – die belastingbetalers moet opdok.

Salarisse en lone van staatsamptenare is oor die algemeen te hoog, en meer as teveel poste is geskep wat ’n oorbevolking meebring teen ’n enorme klomp geld wat beskikbaar moet wees.